Dié swart Afrikaners woon al jare op hul 'bloedgrond'

2005-02-26 23:11

Op die werf skrop 'n paar kaalnekhoenders in die stofgrond en 'n koei bulk mistroostig in 'n veekampie wat sy deesdae ook met die donkies moet deel.

"Haar melk brand," sê mnr. Jan Monare (85), beter bekend as oom Jôt. "Haar kallers is verkoop, sien. Nou soek sy daai kallers, want haar uier is vol. Al het die kinners haar vemôre uitgemelk."

Sy oë tuur ver na die einders van 'n tyd toe Onverwacht 'n vooruitstrewende boeregemeenskap was, voordat die plakkers hul intrek op hul weivelde geneem en die regering sy Hop-huise op hul "bloedgrond" kom oprig het.

Onverwacht, sowat 10 km buite Cullinan, noordoos van Pretoria, is die plek van die swart Afrikaner, sê sy inwoners. Hy praat al Afrikaans van voordat hy leer kruip het, sê oom Jôt. "Soos my pa voor my en sy pa ook. Ons het Boerebloed gehad, sê ek jou. Swart Afrikaners, Sus, en as onse velle donker is, is dit oor ons so lank in die son was."

Hulle drink Afrikaans, sê me. Patricia Machobani (43), en roep haar sewejarige dogter, Poppie, wat op haar hurke voor die rooi stoep een oog op haar huiswerk hou en die ander op die twee seuns wat al jillend teen 'n boom se takke afgly.

"Hy is Sotho, maar ek is 'n Afrikaner," lê die sewejarige Benjamin Machobani uit waarom sy maat in Sotho skoolgaan, terwyl hy wat Benjamin is in Afrikaans leer. En help vinnig toe sy maat nie die vraag na waar hy bly so lekker begryp nie. "Die antie wil weet waar jy bly. Sy praat net nie reg Afrikaans nie."

Sy is arm maar geduldig, groet mev. Kitty Mashobane , Patricia se ma, en hervat met: "Struikel, maar ek val nie," terwyl sy die stoele onder die tafel in die "voorhuis" uittrek. Die ou opstal sal seker nog bo-op haar inmekaar val, want dis al ouer as honderd jaar, lag sy teen die reuk van politoer, die rook van die swart stoof in die kombuis en die olielamp in.

Die verskillende spellings van hul van is maar "een van dáái dinge", verduidelik Patricia, en "daai dinge" het dié Onverwachters al toeka as deel van hul geskiedenis leer aanvaar.

"Voor 1900 het my voorouers nie vanne gehad nie, maar my voorvader het homself 'Machobane' genoem. Machobane wat 'ons huil bloed' beteken, vir al die bloed wat op die pad uit die Kolonie agter die Voortrekkers aan gestort is. Kyk, onse voorvader het mos in 1838 met hulle voete agter die Voortrekkers en hulle ossewaens aangetrek uit die Kolonie noorde toe. Vry slawe was hulle, die nátrekkers. En ons is hulle nageslag. Ek is 'n bloed-nátrekker, soos ek hierso staan," sê Patricia. Soos ook die Napaais, Tlabati's, Monares, Mochabani's, Hartmanns, Hartzenburgs, Nagels, Meletsi's, Matles . . .

"In die eerste Anglo-Boereoorlog het die nátrekkers sy aan sy met die Boere geveg en Paul Kruger, president van die ou Zuid-Afrikaansche Republiek, het belowe hy sou hulle grond gee as die Boere wen. Toe verloor die Boere, maar die natrekkers het steeds hul grond gekry. Wel nie verniet nie, maar teen goed-goedkoop pryse. Die geskenk was vir die nárekkers 'n groot verrassing en hul reaksie was: 'Dit is onverwachts'. Toe kry ons nedersetting sommer ook die naam Onverwacht."

Niks, spog Patricia, is van 1903 aan hul opstal of dié van die oorspronklike 57 families wat hulle op dié plaas gevestig het, verander nie. Saam met haar kleinkind is hulle al die sesde geslag Afrikaners op Onverwacht. "Nee kyk," sê oom Jôt, "die Onverwachters is taai Afrikaners, want hulle het 'n hele paar oorloë oorleef. Selfs apartheid."

"Apartheid het gekom en die Groepsgebiedewet is ingestel," vertel oom Jôt. "Baie het hul huise verloor en sommige is na die tuislande gestuur. Maar ook hulle het nie daar behoort nie. Hulle kon nie 'n swart taal praat nie. En ons wat hier gebly het, moes ons vanne verander, want ons is te swart om Afrikaans te wees. As ons dus wou bly, moes ons ons vanne verander." Sy van is van Madumo in Monare verander, terwyl Patricia se ouma onder eed moes verklaar dat sy geen ander taal as Afrikaans kon praat nie voordat haar van in Botha verander is.

Tussen die praat deur slaan die Onverwachters oor na 'n taal wat vreemd op die oor val, maar ook bekend Afrikaans klink. Sotho? Xhosa?

Nee, dié tale het sommige van hulle later aangeleer sodat hulle "swart genoeg" vir die ander kon wees. Maar dié taal wat hulle met hul Afrikaans afwissel, is die "aalty", 'n geheime taal wat die nárekkers ontwikkel het as hulle van die Voortrekkers wou skinder. "Nou's dit ook ons skinnertaal," sê hulle.

In dié variasie op Afrikaans val die eerste letter van 'n woord weg, word dit aan die einde bygevoeg en 'n "y" aangelas. Sê word dus "êsy", radio is "adiory", praat "aatpry" en gras verander in "asgry".

En dan het hulle nog nie begin vertel van hul unieke Onverwacht-koekies wat saam met 'n koppie boeretroos so eg Suid-Afrikaans soos koeksisters is nie.

Die geskiedenis en kultuur van Onverwacht is deel van die Afrikaanse erfenis, sê mnr. Hennie Prinsloo, raadslid en baas van die stoetplaas Brandbach, wat aan Onverwacht grens.

"Hulle lyk en praat soos ek. Maar dis geen wonder nie. Hulle is immers die resultaat van ondertrouery tussen wit, swart en slawe van Maleise afkoms. Hulle is Afrikaans. En swart. Swart Afrikaners dus."

- Rapport

binne rapport

Weer
Ksd: 12-15°C Numerous showers. Afternoon clouds. Cool. Pta: 3-23°C Sunny. Mild.
Jhb: 6-18°C Sunny. Mild. Bfn: 5-22°C Sunny. Mild.
Dbn: 9-27°C Sunny. Warm. PE: 10-22°C Mostly sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!