Die waarheid maak jou eers mislik, dan vry

2012-07-28 23:57

Die rolprent Dead Poets Society van 1989 met Robin Williams in die rol van ’n inspirerende onderwyser het destyds ’n enorme indruk op my gemaak.

Ek is oorweldig deur die konsep van ’n allesoorheersende passie en die aanmoediging om die oomblik aan te gryp. Wat my egter die heel meeste bybly, is die tonele waar Williams se karakter aan sy leerlinge demonstreer hoe anders dinge lyk as jy op ’n stoel klim en van bo af kyk.

Weliswaar nie vuurpylwetenskap nie, maar dit strook wel met die ruimtevaarder Neil Armstrong se bekende woorde toe hy op die maan geland het: “One small step for man, one giant ­leap for mankind.”

Dis ’n boodskap en les wat ek ál meer glo ons van toepassing kan maak wanneer dit kom by finansiële bestuur. Klim uit jou gemaksone op die metaforiese stoel en kyk hoe lyk dinge van daar af.

Wees gewaarsku: Dit gaan nie noodwendig dadelik beter lyk nie. Soos die Amerikaanse oudpresident James A. Garfield tereg gesê het: “The truth will set you free, but first it will make you miserable.” Dit geld alles en almal, van regeringskorrupsie tot die bankbestuurder wat jou krediet­kaart­aan­soek afgekeur het.

Die belangrike ding is dat wanneer jy van bo af kyk, jy die volledige prentjie sien: Jy ontdek wát pas wáár; dat daar dalk ’n verband is tussen die regering se brassery, jou kontantvloeiprobleem en selfs die Euro-krisis. En só, sal jy vind, met die ekstra kennis kom ekstra mag.

Om die hele prentjie te sien is makliker gesê as gedaan. Die probleem, meen ek, is deels ons moderne – én Suid-Afrikaanse – samelewing. Van die oomblik dat mens jou oë oopmaak tot die oomblik dat jy weer teen die plafon vasstaar, is jy in ’n drukkoker.

Kom ons neem ’n gemiddelde dag in die gemiddelde lewe van die denkbeeldige mev. X. Aangevuur deur weinig meer as ’n koppie koffie en louter noodsaak moet sy kinders uit die bed kry, graankos in hul maag, klere aan hul lyf en skoene aan hul voete.

Op pad uit gee die afstandbeheerde motorhuisdeur die gees en dit neem haar tien minute om die gesin se Rottweiler van ’n wandelende pensioentrekker se been af te skeur. Op pad werk toe moet sy haar vrou staan teen alles van kinderbedelaars tot spoedlokvalle en verkeersknope en natuurlik die immer teenwoordige moontlikheid van ’n kaper, handsakgryper of modderskerm-stamper.

Danksy diverse koerantplakkate kry sy uiteraard die jongste nuus oor al die fronte waar ons ou wêreld sy alie sien.

En kom mev. X uiteindelik op kantoor, moet sy haar handhaaf teen onverkwiklike kollegas, ’n miserabele baas en ’n teetrollie-operateur wat sy vermoed die reïnkarnasie is van Atilla die Hun. Wanneer die einde uiteindelik in sig is, gebeur presies dieselfde, net na die anderkant.

My punt? Teen die tyd dat ’n mens by die huis kom, het jy waarskynlik een breinsel oor. Eerder as die oomblik, gryp jy die TV-afstandbeheer met die een hand en ’n bier met die ander en gaan sit soos ’n lewende lyk en kanaal-klik in ’n desperate poging om die wêreld tot stilstand te bring en af te klim.

Die laaste ding waarvoor jy lus is, is om te besin oor die groter prentjie agter jou eie geldelike kopseer, ’n land se ekonomiese maagseer of ’n vasteland se fiskale breingewas.

Wanneer dit by dié dinge kom, is daar ongelukkig nie maklike antwoorde of kitsoplossings nie. TV kyk sal altyd lekkerder wees as om The Complete Idiot’s Guide to Economics nader te sleep. ’n Bier gaan darem net baie mak­liker af as die bitter pil van ’n mens se bankstate. Maar êrens moet ons begin om mede-verantwoordelikheid te aanvaar en die mag wat daarmee gepaard gaan.

Onthou, die eerste stap hoef nie enorm te wees nie. Soos die spreekwoord sê: “Die langste reis begin met een tree.”

Gaan soek en vind dus daai treetjie wat vir jou reg voel, en gee hom ... Hou jou oë én jou kop oop en jy sal dalk aangenaam verras wees, nie net deur wat jy alles wys word nie, maar hoeveel jy dit geniet.

***

Stilte is ook 'n antwoord

In afwagting op 30 September, wanneer haar kontrak verstryk, hou ek ons omstrede verbruikerskommissaris, Mamodupi Mohlala-Mulaudzi, met belangstelling dop. Luidens onlangse berigte is Mohlala-Mulaudzi weer eens slaggereed, tot die tande toe gewapen, met haar “arme-ek-aaklige-hulle”-har­nas, met dikbek-stilstuipe vir ekstra beskerming. In afwagting op terugvoering van die vier mediese skemas wat sy onregmatig hof toe wou sleep, rus sy duidelik nie op haar lagwekkende louere nie.

“Die waghond,” lui die opskrif van ’n berig wat op 22 Julie in Sake24 verskyn het, “hap aanhoudend na baas”.
Hiermee ’n paar insiggewende uittreksels:

* “Terwyl die Verbruikerskommissie die een saak na die ander verloor omdat hy verkeerde prosedures volg, is Mohlala-Mulaudzi op die oorlogspad.”

* “Intussen is daar talle klagtes, onder meer op die webwerf hellopeter.com, oor geen of swak diens van die kommissie. Dit is ten spyte daarvan dat Mohlala-Mulaudzi onlangs ’n dienshandves in die Staatskoerant gepubliseer het waarin sy onderneem om verbruikers teen onetiese sakepraktyke en wangedrag te beskerm.”

* “Robby Coelho, ’n vennoot in die prokureursfirma Webber Wentzel, het in ’n onlangse verklaring gesê hy loof die kommissie vir sy vasbeslotenheid en geesdrif, maar hy meen die kommissie tree onverantwoordelik teenoor ondernemings op deur gereeld foutiewe nakomingskennisgewings uit te reik.”

* “Geordin Hill-Lewis, ’n woordvoerder van die DA oor handel en nywerheid, het dié week gesê: ‘Wat ons nou by die kommissie sien, is hartseer vir gewone verbruikers.’?”

En, les bes:

“In ’n brief wat (die direkteur-generaal van die departement van handel en nywerheid) Lionel October die afgelope week aan Mohlala-Mulaudzi gestuur het, sê hy die departement word oorval deur medianavrae oor wanadministrasie in die kommissie en word sy gevra om dringend aandag daaraan te skenk en die departement in kennis te stel van die vordering ... Sake24 kan ongelukkig nie die kommissie se kant van die saak stel nie aangesien Mohlala-Mulaudzi ná vyf dae nog nie navrae beantwoord het nie ... Sy het wel by die persombudsman gekla dat sy vermoed hierdie artikel sal ongebalanseerd en onregverdig wees sonder haar kommentaar.”

Was stilte al ooit ’n meer veelseggende antwoord?

***

BMW

Ná maande se onderhandelings tussen Hanna Marais en BMW Suid-Afrika, met Verbruikersvasvat tussenin, het Marais die maatskappy se skikkingsaanbod aanvaar. Dit was ’n ingewikkelde kwessie, maar ek is teleurgesteld dat BMW so lank geneem het om dit af te handel.

Vodacom

Gert Theron was baie gelukkig met sy “pay-as-you-go” – en baie ongelukkig met die kontrak wat ’n telebemarker aan hom verkoop het. Tien uit tien vir die Vodacom-span wat Theron feitlik onmiddellik gekontak het en die saak reggestel het.

Hy skryf: “Jy is ’n ster ... Nogmaals baie dankie vir jou moeite en belangstelling. Ek waardeer dit van ganser harte.”


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 11-19°C Sunny. Mild. Pta: 8-19°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-14°C Sunny. Cool. Bfn: 2-18°C Sunny. Mild.
Dbn: 12-22°C Showers early. Morning clouds. Cool. PE: 9-22°C Sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Senior Account Executive

Johannesburg
E-Merge IT Recruitment
R550 000 - R580 000 Per Year

New Business Developer

Johannesburg
E-Merge IT Recruitment
R300 000 - R350 000 Per Year

EXPERIENCED FEMALE TELESALES AGENT WANTED: 10K BASIC + 20K - 30K COMM O.T.E

Midrand
South African Property Investment Network (SAPIN)
R10 000 - R12 500 Per Month

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!