Dis te blond in die blou
2012-08-26 00:06
Net 4,5% van Suid-Afrika se totale getal vlieëniers is nie-wit, wat ’n geringe verbetering verteenwoordig in dié persentasie die afgelope sowat vyf jaar.
Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) weier egter om hul standaarde te verlaag om transformasieteikens vinniger te bereik.
Bewusmakingsprogramme oor lugvaartloopbane, veral as vlieëniers, word wel onder jong swart mense gedoen.
Tot verlede week het die SAL voorkeur gegee aan die aansoeke van swart kadetvlieëniers en die aansoeke van wit mans onmiddellik verwerp – klaarblyklik om die transformasieteikens vinniger te bereik, maar die lugdiens ontken nou dat dit doelbewus was.
Eers ná dreigende regsaksie en openbare protesaksies van die vakbond Solidariteit het die SAL sy verbod op die aansoeke van wit, manlike kadetvlieëniers gelig.
Volgens die BLO het die land 262 nie-wit vlieëniers (swart, bruin en Indiër).
Dit verteenwoordig 4,5% van die totale persentasie Suid-Afrikaanse houers van private, handels- en lugdiensvervoerlisensies.
“Dié syfer is uiters onbevredigend,” sê Marié Bray, die BLO se korporatiewe kommunikasiebestuurder.
In die SAL is 15% van vlieëniers nie-wit en drie is swart, vroulike kadetvlieëniers.
Dié persentasie verteenwoordig ’n geringe verbetering sedert 2008, toe net 11% van die SAL se sowat 800 vlieëniers swart was.
Volgens Bray is die BLO reeds ’n geruime tyd betrokke by die fasilitering van opleiding van swart vlieëniers.
Vir dié doel het die BLO verskeie belanghebbendes betrek en probeer ook finansiering en beurse reël.
“Die vervoerseta van die regering verskaf finansiering.
“Daar is ook kadetprogramme by die SAL, SA Express, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Suid-Afrikaanse Lugmag.
“Burgerlike lugvaart se afdeling korporatiewe kommunikasie en bemarking is voortdurend betrokke by programme om studente uit voorheen benadeelde gemeenskappe bewus te maak van loopbane in die lugvaart.”
Dit sluit in bedryfsinisiatiewe in samewerking met die Recreational Aviation Administration of South Africa en die Aeroclub of South Africa waar jong swart mense bewus gemaak word van lugvaartloopbane en waar opleiding verskaf word.
“Burgerlike lugvaart speel gereeld gasheer vir swartbemagtiging-werksessies. Vanjaar het ons sulke bewusmakingsessies gehou in Gauteng, asook in Kaapstad, Durban, Polokwane en Nelspruit. Volgende week word ’n bykomende werksessie in Bloemfontein gehou.”
Transformasie in die Suid-Afrikaanse lugvaartbedryf word aktief hier bevorder.
Kabelo Ledwaba, kommunikasiebestuurder van die SAL, sê dié lugdiens se ontwikkelingsprogram vir kadetvlieëniers, wat beurse insluit, is gevestig om aspirantvlieëniers van alle bevolkingsgroepe te lok “om die lugdiens en die bedryf in Suid-Afrika in die geheel te help bou aan vaardigheid sodat ons beplande groei- en ontwikkelingsdoelwitte kan bereik”.
Die SAL waarborg egter nie ’n werk ná opleiding nie.
Ledwaba sê die SAL is terdeë bewus daarvan dat ’n “geoutomatiseerde multivlak-aanlyn-aansoekstelsel verlede week onbedoeld tot gevolg gehad het dat sekere aansoeke uitgesluit is. Toe ons dit agterkom, het ons blitsvinnig gereageer en die situasie reggestel.”
“Die SAL staan daarby dat hy ’n streng keuringproses toepas. Die beste kandidate word vir ons vlieëniersopleidingsprogramme gekies.”