Div se kop kan rol ná nederlae
2010-09-04 23:05
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
STEPHEN NELL in BLOEMFONTEIN
Die Springbok-afrigter, Peter de Villiers, se loopbaan is in die weegskaal nadat sy span gister hier in die doodsnikke tot ’n nederlaag van 39-41 teen Australië op Vodacompark verdoem is.
Kurtley Beale het die wenpunte met ’n langafstand-strafdoel geskop nadat dit eers gelyk het of die Bokke ’n agterstand van 6-31 ná slegs 25 minute in ’n merkwaardige sege sou omskep.
Die yslike terugvegpoging was egter nie genoeg nie en De Villiers kan nou in groot moeilikheid wees nadat sy span vyf uit ses wedstryde in vanjaar se Drienasiesreeks verloor het.
Dit was ’n dag waarin die skare elke denkbare emosie ervaar het, Bryan Habana uitgejou en die Bok-afrigtingspan selfs voor rustyd gevloek is.
Met die Mandela-skild nou op pad Sydney toe, gaan De Villiers aan sy werkgewers moet verduidelik waarom die Bokke se wiele so skouspelagtig afgekom het in vanjaar se toernooi.
Ofskoon dit lyk of De Villiers ’n tugverhoor gaan vryspring vir die uitlatings wat hy die afgelope week oor die Bees Roux-kwessie gemaak het, kan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) bloot op rugbygronde ’n lang klagstaat opstel.
De Villiers sal binne die volgende twee weke vir ’n prestasiebeoordeling moet gaan.
Dis standaardprosedure ná die Drienasiesreeks en hy sal die vyf nederlae saam met die omstredenheid waarin hy homself, die Bok-span en Saru met sy openbare steun aan Roux gedompel het, moet verduidelik.
Sport24 verneem uit die binnekringe die gevoel onder rugbybase is dat De Villiers oortree het deur ’n uitspraak te maak oor iets wat niks met die span te doen het nie.
Die kwessie is egter nog net informeel bespreek.
De Villiers se verdelende uitsprake in die media is besig om vir Saru ’n yslike kopseer te raak en het tesame met die Bokke se nederlae in die Drienasiesreeks, vrae oor sy geskiktheid vir die top-afrigtingspos laat ontstaan.