Dolleë damme dompel dorp in krisis
2013-01-05 23:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
SUNÉ KITSHOFF IN KAAPSTAD
Die provinsiale regering in Mpumalanga oorweeg dit om Ermelo tot rampgebied te verklaar omdat die Douglas- en Willem Brummerdam kurkdroog is en inwoners maande reeds nie water het nie.
’n Amptenaar in die provinsiale departement van samewerkende regering het eergister vertroulik aan Rapport gesê ’n rampbestuurspan van nasionale departemente word oorweeg om nou ’n krisis af te weer.
“Eerlikwaar, dit (die situasie) is buite die beheer van die munisipaliteit,” sê hy.
Volgens die amptenaar was die Douglasdam Woensdag sowat 10% vol en die Willem Brummerdam dolleeg.
“Maar ons verneem dis nou al erger. Ons sal evalueer hoe erg sake is, veral vir die boere in die gebied, en dan sal ’n ramp verklaar moet word,” het hy teen Vrydag gesê.
Mielies en sojabone word in die Ermelo-distrik verbou.
Janice de Jager, woordvoerder vir die Ermelo-sakevereniging, het aan Rapport gesê sy is bly die probleem word uiteindelik erken.
“Fabrieke en sake-ondernemings het al uit Ermelo onttrek omdat daar nie genoeg water vir hul bedrywighede is nie,” sê sy.
Die noordelike woonbuurte in Ermelo word die swaarste getref en dele van die Wesselton-township is al bykans drie maande sonder water.
Volgens De Jager is die waterskaarste die gevolg van droogte, maar sy meen die onvermoë van die Msukaligwa- plaaslike owerheid om beplanning te doen het bygedra tot die probleem.
Simphiwe Kunene, woordvoerder vir Mpumalanga se departement van samewerkende regering (Cogta), het aan Rapport gesê dis verstommend dat die damme noord van Ermelo leeg is terwyl die provinsie elders swaar reën gekry het.
Teen die begin van verlede maand het die sterftesyfer weens die gure weer en somervloede in Mpumalanga en KwaZulu-Natal reeds op minstens 28 mense gestaan.