‘Dooie’ vrou praat ná 34 j. met familie
2012-08-12 00:11
AJ Opperman in Johannesburg
’n Britse vrou wat 34 jaar lank met geheueverlies in Suid-Afrika gestrand was en nie kon onthou wie sy is of waar sy vandaan kom nie, weet uiteindelik waar haar familie is.
Susan Ardron (61) het haar geheue verloor nadat sy in 1978 in ’n motorongeluk was.
Selfs al het sy die laaste jare grepe van haar herinneringe begin terugkry, is die sin wat sy steeds die meeste sê: “Ek weet nie.”
Ardron is in Engeland gebore en het in 1975 met haar man en vier kinders na Suid-Afrika geëmigreer.
Toe gebeur die ongeluk, waarin sy van haar man en kinders geskei is.
“Niks wil vassit nie,” sê sy.
“Ek weet nie eens waar die ongeluk gebeur het nie. Net dat dit ’n botsing teen ’n ander voertuig was. Ek weet ook nie hoe ek en my gesin mekaar verloor het nie.”
Haar familie in Engeland en haar gesin het destyds probeer om haar met die hulp van die Heilsleër op te spoor.
Dit was vergeefs.
Haar man, Sid, en vier kinders, Joanna (nou 43), Jason (40), Adele (38) en Amanda (36), is later terug Engeland toe sonder dat hulle haar kon opspoor.
Hulle het al die jare geglo sy is dood.
Sid is sedertdien dood en die kinders kan self nie die besonderhede van die ongeluk mooi onthou nie. Nadat sy met geheueverlies alleen gestrand was, het Ardron jare lank as huiswerker gewerk om ’n bestaan te maak. Sy het ook deurgaans in inrigtings tuisgegaan.
Maar verder is haar herinneringe nog grotendeels vaag.
Mense het haar bygestaan, sê sy, maar sy weet nie wie hulle was nie.
Sedert Desember woon sy by Operation Job Creation (OJC), ’n nie-winsgewende organisasie in Roodepoort.
“Susan het die laaste klompie maande terugflitse gehad en onthou sy het ’n broer en drie susters,” vertel June van der Nat, hoof van OJC.
“Een van die ander mense wat hier bly, Andrea January, het voorgestel dat hulle op Facebook na haar familie soek. Dit het ’n ruk geneem, maar op die ou end het Andrea uiteindelik ’n boodskap by haar broer gekry.”
Sedertdien het Susan oor die telefoon met haar broer, Colin (39), en haar susters, Dawn (58), Gail (52) en Julie (50), gepraat.
Dit was in April, sê Susan terwyl sy die maande met haar vingers aftel. “Dit was vreemd vir my en vir hulle. En ek voel nog nie heeltemal gemaklik in ’n gesprek met hulle nie. Want hoewel ek hulle gedeeltelik onthou, weet ek eintlik min van hulle. Hul stemme klink selfs anders as myne.”
Ook het sy met haar kinders gepraat. Haar ouers, Colin en Mavis, is intussen oorlede.
“Ek ken nie my kinders se verjaardae nie en hulle was klein toe die ongeluk gebeur het. So ons is ook vreemd vir mekaar.”