Douw bou SA se duurste woning
2012-05-05 23:42
Suid-Afrika se grootste en duurste woning nog verrys langs Dainfern in die noorde van Johannesburg.
Dié skouspelagtige paleis van 7 500 vierkante meter word deur die versekeringsmagnaat Douw Steyn opgerig teen tussen R150 miljoen en R200 miljoen.
Steyn se vorige private woning was die ewe luukse eiendom in Sandhurst wat vandag as die Saxon-boetiekhotel bedryf word.
Dié eiendom is in 1990 voltooi.
Sake24 het verneem dat geen moeite ontsien word om die eiendom so luuks moontlik toe te rus nie. Daar gaan glo 'n garage wees met plek vir 33 motors, drie nywerheidskombuise, sewe slaapkamer-suites, 'n wynkelder en 'n imposante ingang na die eiendom.
Die omvattende tuine sal oor drie hektaar strek. Bouwerk is reeds aan die gang en die omvang van die struktuur het die hele Dainfern aan die gons. Langs die huis beplan Steyn ook een van die grootste eiendomsontwikkelings wat nog in Johannesburg aangeapk is.
Lees in Sake24 hoe die prys van die huis vergelyk met ander spoghuise wêreldwyd.