Dozi in rasherrie by KKNK
2010-04-03 23:24
’n Rasherrie het oor die sanger Dozi se kop losgebars ná ’n hewige brassery by die Absa Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn.
Dozi is in ’n restaurant deur lede van die publiek gekonfronteer nadat hy beledigende aanmerkings oor swart mense gemaak het.
“Die k*****s, die k*****s, die k*****s! Hulle f*k ons land op. Ons moes die land vir hulle gee en nou weet hulle nie hoe om dit te regeer nie,” het hy Woensdagaand in die Swiss Bistro-restaurant ten aanhore van klante van alle rasse gesê.
Dozi het in ’n eksklusiewe onderhoud met Rapport erken hy het wel die beledigende aanmerkings gemaak – maar sê hy was dronk en hy het hom vererg toe die ANC-jeugligaleier, mnr. Julius Malema, in ’n gesprek opgehaal is.
Sedertdien probeer Dozi die vure doodslaan.
Die KKNK-direksie het eergister ingegryp en aan Dozi voorgestel dat hy persoonlik om verskoning vra vir sy gedrag.
“Ek het net ’n slegte aand gehad. Ek het opgef*k,” het ’n duidelik gebroke Dozi aan Rapport gesê.
Hy erken hy het die k-woord gebruik. “Ek was dronk?… maar dis nie ’n verskoning nie.
“Ek’t intussen in die woordeboek gesien die woord beteken ’n nie-gelowige. Dan kry ’n mens mos wit k*****s ook, of hoe?
“Ek hou nie eens van die woord nie en gebruik dit glad nie. Dit was net daai een aand.”
Dozi sê hy is die laaste tyd onder geweldige stres. “Iemand in ons geselskap het gepraat oor Julius Malema. Ek het my vererg. En dis waar daai gesprek vandaan gekom het.
“Ek is nie ’n rassis nie. Maar ek het rassisties opgetree. En ek het teruggegaan na die restaurant en om verskoning gevra vir my gedrag.”
Mnre. Jason Lloyd, ’n rubriekskrywer, en Lionel Adendorf, woordvoerder van die nasionale departement van vroue, kinders en gestremdes, was teenwoordig tydens die voorval in die restaurant. Hulle byt swaar aan Dozi se verduideliking.
“Ek vind sy gedrag uiters teleurstellend,” sê Lloyd.
Adendorf sê ’n gewilde openbare figuur soos Dozi moet versigtig wees wat hy in die publiek kwytraak.
“Dis ’n helse belediging vir ons as nie-wittes om in ’n restaurant te sit en te moet hoor hoe hy na swartes verwys as k*****s,” sê Adendorf.
“Ek het aanvanklik nie geweet wie dit is nie, maar ek het net k*****r, k*****r, k****r gehoor,” vertel Lloyd. “Hy was rassisties. Daar is nie ’n ander beskrywing vir sy gedrag nie. Ek laat my nie vertel dat drank hom gedryf het tot daai soort gedrag nie.”
Lloyd het na die restauranteienaar, mnr. Boeta van den Berg, gestap en hom van die voorval vertel. Van den Berg het na Dozi geloop en vir hom gesê sy gedrag word nie geduld nie.
Die feesdireksie het Lloyd later gebel en aangebied dat Dozi hom persoonlik om verskoning vra.
“Maar dit maak nie vir my sin nie. Hy moet nie vir mý jammer sê nie. Hy skuld die hele fees en alle mense van kleur ’n verskoning,” sê Lloyd.
Van den Berg het bevestig Dozi het kom sê hy is jammer. “Hy het soos ’n stout seun by my vrou, Linda, aangekom.”
Dozi vat eks hof toe omdat hy sy seun meer wil sien
Die sanger Dozi sleep sy eerste vrou nou hof toe in ’n desperate poging om sy tienerseun meer gereeld te kan sien.
In ’n openhartige onderhoud met Rapport het die sanger die afgelope week by die Absa-KKNK die eerste keer gepraat oor sy hartseer stryd.
Hy het sy 13-jarige seun, Storm Opperman, meer as ’n jaar laas gesien en hy blameer sy eksvrou, Tanya van Niekerk, daarvoor.
Storm was maar ses maande oud toe Van Niekerk die sanger om ’n egskeiding gedagvaar het. Sy is intussen met Mark van Niekerk getroud.
“Sy laat my geen keuse nie as om die ding hof toe te neem. Ek betaal nog getrou elke maand R5 000 plus sy skoolgeld.
“Mense dink ek wil nie my kind sien nie. Ek is nie ’n bakleierige ou nie, maar ek is nou gatvol. Dit vreet my van binne af op.
“Dis baie onregverdig teenoor my kind. Ek bel hom elke dag om te sê ek’s lief vir hom.”
Ingevolge ’n hofbevel mag Dozi sy seun een keer ’n maand, asook in vakansietye sien.
“Dit gebeur nie. Twee jaar gelede, toe my pa dood is, wou sy nie eens hê hy moes na die begrafnis kom nie. Sy het ’n dag voor Storm moes vlieg vir my gesê die begrafnis sou hom ontstel.”
Storm sou ook by sy pa aansluit by die KKNK, maar Van Niekerk het weer twee dae voor hy moes vlieg ’n stokkie daarvoor gesteek.
“Sy sê ons kind kan nie saam met sy celebrity-pa gesien word nie omdat ek te veel aandag kry,” vertel Dozi.
Van Niekerk wou nie self kommentaar lewer nie en het by monde van haar man gesê hulle gaan in die hof baklei.
Dozi sê reguit Storm se ma vergiftig hom met allerhande stories oor sy pa. “Verlede jaar het ek vir Tanya gesê ek gaan haar by die polisie rapporteer. Toe bel my kind my later en vra hoekom wil ek sy ma laat arresteer.”
Hy sê dinge tussen hom en Tanya het versuur toe sy nie op sy plaas wou bly nie.
“Sy wou nie hê ek moes sing nie. Toe los ek die musiek en gaan werk by ’n drukkersmaatskappy. Maar my passie het by musiek gelê en toe bedank ek.
“Ek het voorgestel dat ons terugtrek plaas toe nadat ons ’n huis in die Kaap gehuur het, maar sy was van die begin af gekant teen die idee. Sy het nietemin ingestem. Ses maande later het sy uitgetrek en my gedagvaar om ’n egskeiding”
’n Vriendin van Dozi en Tanya wat anoniem wil bly, sê die sanger probeer regtig net om meer van sy kind te sien, maar dat sy eks dit moeilik maak.
- Rapport