Dwelmmuil mis soms tronklewe
2013-01-05 23:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
AJ Opperman in Johannesburg
Die Johannesburgse kunstenaar wat ná 18 jaar in ’n Thaise tronk weer ’n Kersfees op Suid-Afrikaanse bodem kon vier, sê die eensaamheid oorval hom soms só dat hy soms terugverlang na sy sel.
Rapport het in April verlede jaar berig oor Shani Krebs (53) se vrylating toe hy op die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park geland het.
Krebs sê hy vind dit moeilik as daar nie mense om hom is nie.
Hy het gewoond geraak aan die kameraadskap in die tronk en het steeds kontak met van die vriende wat hy in die tronk gemaak het.
Die aanpassing in sy geboorteland was nie maklik nie.
“Ek vind dit werklik moeilik om alleen te wees.
“Ek voel effens terneergedruk wanneer ek nie by mense is nie.
“Dit was in ’n stadium vir my moeilik om by die huis te wees.
“Ek mis die gestruktureerde lewe van die tronk. Daar was altyd iets aan die gebeur. Jy was heeltyd op jou hoede.”
Ná sy vrylating het dit ’n maand geduur om gewoond te raak daaraan om in ’n bed te slaap en nou nog moet ’n lig in die kamer skyn wanneer hy slaap.
Krebs is in April 1994 weens heroïen-smokkelary in Bangkok in hegtenis geneem nadat hy met 1,2 kg van dié dwelm in ’n sak op die lughawe betrap is.
Vandag glo hy sy inhegtenisneming en gevangenisstraf was eintlik ’n seën.
“Dit het my bevry van my dwelmprobleem wat ek voorheen gehad het. Ek is nou al jare lank skoon.”
Krebs is deesdae in ’n vaste verhouding.
Hy het nog nie heeltydse werk nie, maar doen gereeld motiveringspraatjies by skole oor dwelmmisbruik.
Hy is amper klaar geskryf aan ’n boek wat waarskynlik in Augustus op die rak sal wees.
Hy beplan om saam met sy boekbekendstelling ’n kunsuitstalling te hou.
Die strewe na vryheid was heeltyd die dryfkrag in die tronk, sê hy.