ET se plaas na ‘vent met ANC-bande’
2012-02-04 22:47
’n Vete woed glo nou tussen die bloedfamilie van mnr. Eugène Terre’Blanche en die vermoorde AWB-leier se weduwee omdat sy “die grond (plaas) aan ’n vent verkwansel het wat op ’n hoë vlak by die ANC betrokke is”.
Terre’Blanche se opdrag was dat sy plaas in familiehande moet bly wanneer hy sterf, het ’n familielid wat anoniem wil bly aan Rapport gesê tydens die hervatting van die Terre’Blanche-moordverhoor die afgelope week.
Die plaas Witrandjiesfontein, waar hy vermoor is, is sowat 15 km buite Ventersdorp in Noordwes.
“Sy (mev. Terre’Blanche) is niks van ons Terre’Blanche-familie nie.
“Sy het Eugène in die aarde in vertrap,” sê die familielid.
Dié beweer ook verhoudinge tussen Eugène Terre’Blanche en sy dogter, Bea, was baie troebel.
Mev. Martie Terre’Blanche het per SMS aan Rapport gesê sy wil in dié stadium geen uitlatings maak nie behalwe om te sê: “Ek weet die Hemelse Vader is in beheer en geregtigheid sal geskied.”
’n Inwoner van Ventersdorp het aan Rapport bevestig Terre’Blanche se dogter was baie kwaad vir hom, maar wou nie verder daaroor uitwei nie.
“Hulle het daai plaas verkoop, want hulle wou niks meer met hom of die politiek daarvan te doen hê nie.”
Die verhoor van die twee plaaswerkers wat daarvan aangekla word dat hulle Terre’Blanche op 3 April 2010 vermoor het, is die afgelope week in die rondgaande hof hervat.
Mev. Terre’Blanche het getuig sy het nie daarvan gehou wanneer haar man baie gedrink het nie.
“Ek het hom wel eenkeer toe hy te veel gedrink het met egskeiding gedreig ... maar ek sou nie skei nie. Hy het gesê sy lewe sal in duie stort,” het sy getuig.
’n Familievriend het aan Rapport gesê almal in die dorp het geweet Terre’Blanche woon op sy plaas en sy vrou in die dorp.
“Hy het elke dag baie gedrink. Ek sou altyd twee bottels brandewyn gaan koop as oom Eugène vir my kom kuier. Een vir hom en een vir my,” sê die vriend.
Tans word daar ’n verhoor binne ’n verhoor gehou om die toelaatbaarheid van sekere inkriminerende stellings te bepaal.
Die regsverteenwoordigers van die twee beskuldigdes, mnr. Chris Mahlangu en sy minderjarige medebeskuldigde, het in die hof aangevoer polisielede het hul kliënte se konstitusionele regte geskend.
Daar is gesê die minderjarige is sielkundig gemartel om ’n skuldbekentenis uit hom te dwing.
Mnr. Kgomotso Tlouane, Mahlangu se prokureur, het sover gegaan om aan konst. Kedebone Mogoele te sê sy is “pateties” omdat sy nie self die regte verstaan wat sy glo in Engels en Tswana aan die twee beskuldigdes voorgelees het nie.
Lt.kol. Tsietsi Mano, ondersoekbeampte in die saak, het ook deurgeloop deurdat adv. Norman Arendse SC sy geloofwaardigheid as ’n getuie bevraagteken het. Arendse het Mano daarvan beskuldig dat hy die minderjarige beskuldigde gemartel het.
“Jy maak gebruik van onregmatige en onwettige metodes ... nes dié wat in die apartheidsjare gebruik is,” het Arendse gesê.
Mano is in 2008 skuldig bevind aan marteling en die polisie moes meer as R500 000 aan skadevergoeding uitbetaal.
Die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD) ondersoek hom tans ook weens beweerde aanranding.
Die verhoor duur Maandag voort.