Eet die Kersfees heeltema(a)l genoeg
2012-12-16 02:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Hier’s vir jou ’n Kers-kopkrapper: Hoe sit jy vanjaar ’n feesmaal voor terwyl kospryse aanhou styg?
In ’n aanlynpeiling het 42% van Rapport se lesers die afgelope week gesê hulle gaan sowat R100 per kop aan 2012 se Kersete bestee, maar een uit elke drie respondente begroot vir minder as R50.
Ons het gaan kyk presies hoeveel meer jy deesdae vir ’n tipiese Kersmaal betaal (sien grafika hierby) en aangeklop by Deena Naidoo, wenner van die TV-reeks MasterChef, vir wenke oor hoe om met ’n klein begroting steeds lekker te eet .
Beskikbare prysinligting wys ’n tipiese Kersete sal vanjaar 5% meer kos as verlede jaar, maar dit is meer as dubbel soveel as 11 jaar gelede.
In 2001 het kalkoen R19,89/kg gekos terwyl dit jou vanjaar R54,99/kg uit die sak gaan jaag.
Gekookte ham het 11 jaar gelede sowat R30/kg gekos, maar nou sal jy soveel as R80/kg betaal.
’n Vrugtekoek wat nou tussen R54,99 en R109,99 kos, het toe sowat R29,99 gekos.
Kospryse is volgens ekonome allermins die groot sondaar wat jou sak so ruk.
Pak die skuld eerder op peperduur elektrisiteit, waarvan die prys die afgelope 12?maande met 30% gestyg het.
“Dit is een van die hoofredes hoekom verbruikers sukkel,” sê Merina Willemse, ’n ekonoom van die Efficient Group.
Daar was ook goeie nuus, sê sy: “Verbruikers se huisverbande en motorpaaiemente was vanjaar laer danksy die daling in die rentekoers.”
As jy een van dié is wat vanjaar elke sent twee keer omdraai, volg Naidoo se wenke vir ’n sakpas-Kersete:
Moenie te veel geregte berei nie.
Een of twee soorte vleis, aangevul deur groente of slaaie, is heeltemal voldoende.
Sit hoender saam met die kalkoen voor. Dis bekostigbaar en vul die kalkoen goed aan.
'n Kalkoen wat 5 kg weeg is genoeg vir 8 tot 11 mense.
Beplan die spyskaart deeglik sodat jy nie onnodige inkopies doen nie.
Gebruik oorskietvleis die volgende dag vir toebroodjies of in slaai.