Etiket ‘jok’ oor suiwer(l)heid
2012-08-04 23:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Kyk baie goed na die etikette van melkprodukte op winkelrakke.
Dié vermaning kom van die Melkprodusente-organisasie (MPO) nadat onlangs beslag gelê is op ’n produk wat plantolie bevat, maar waarvan die etiket beweer dit is Deense feta-kaas.
“Enige suiwelproduk móét 100% suiwelbestanddele bevat,” sê Barbra Bieldt, woordvoerder van die MPO.
“Sodra die melkvastestowwe (vet en proteïen) deur byvoorbeeld plantaardige vette vervang word, is dit ’n gewysigde suiwelproduk.
“Die betrokke kaasproduk se etiket moes eintlik ‘gemodifiseerde kaas met plantaardige vette’ gelui het.”
Bieldt wou nie sê waar die kaas te koop was nie, maar ingevoerde suiwelprodukte wat nie aan plaaslike standaarde voldoen nie, is op Suid-Afrikaanse winkelrakke te koop.
Plaaslike produkte is van hoogstaande gehalte, terwyl die inhoud en gehalte van ingevoerde produkte slegs met ontleding bevestig kan word, sê sy.