FOTOGALLERY: Cameron in sy vuurwa
2012-08-12 00:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
CARIEN KRUGER IN PRETORIA EN GAVIN PRINS IN JOHANNESBURG
Hy is ’n blits in die swembad. Nou is hy ook ’n blits op die pad.
Cameron van der Burgh, Suid-Afrika se Olimpiese kampioen in die 100 m-borsslag, het gister ’n vuurwarm Audi R8 Spyder gekry om hom by sy bestemmings te kry.
Die Pretoriase swemmer het by ’n Audi-tak in die Jakarandastad in dié wit afslaankap-sportmotor met rooi sitplekke uitgery.
Audi het ’n eksklusiewe ooreenkoms met die Sunday Times aangegaan om oor hul borgskap van Van der Burgh se motor te skryf. Hul publisiteitsmaatskappy het dit baie duidelik gemaak Rapport is nie welkom by gister se geleentheid nie.
Volgens ’n bron kan Van der Burgh ’n maand lank met die Spyder ry.
Die motor is blykbaar meer as R2 miljoen werd.
Volgens bemarkingsmateriaal het dit ’n topspoed van 313 km/h en kan binne 4,1 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel. Dit bied aan die bestuurder “asembenemende dinamiek, tesame met die intense sensasie van afkap-bestuur”.
Van der Burgh het gisteroggend eers ’n minuut of wat in die motor gesit terwyl Audi-werknemers hom gewys het hoe onder meer die ruite, bak en afslaandak werk.
Die dak was aanvanklik oop, maar hy het dit toegemaak voordat hy gery het. Die dak maak outomaties toe, blykbaar in 19 sekondes.
Volgens Rapport se bron ry Van der Burgh reeds met ’n geborgde Audi A5 en sal ná ’n maand in die Spyder weer met die A5 ry.
Volgens die webwerf bornrich.com is dit ’n wit A5 Sportback en is Van der Burgh sedert Januarie 2011 ’n Audi-ambassadeur.