Familie platgeslaan oor SA arts se saak
2012-12-16 02:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Prof. Cyril Karabus (77) moes Donderdag op ’n kierie leun toe hy by die hofgebou aankom in Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate.
In die hofsaal moes hy sit, want hy kan nie meer lank staan nie.
In Suid-Afrika het sy familie met ingehoue asems gewag vir die regter se uitspraak.
Alles het daarop gedui dat die saak uitgegooi sou word.
Maar weer is die saak uitgestel en sy lot is steeds in die weegskaal.
Karabus moet op Kersdag wéér in die hof verskyn op aanklagte van manslag en die vervalsing van dokumente.
Hy is in 2002 in sy afwesigheid skuldig bevind aan dié aanklagte nadat ’n jong pasiënt gesterf het wat hy 12 jaar gelede in die Sjeik Khalifa- mediese sentrum behandel het vir leukemie.
Michael Karabus van Kaapstad sê dis lankal nie meer ’n regsgeding nie, want dit gaan nou oor ’n ou man se menseregte.
“My pa is 77 jaar oud. Sy gesondheid is swak. Hy het nie meer tyd oor om vyf maande lank te wag terwyl iemand iewers lêers in ’n stoorkamer soek nie.
Dit laat mens wonder wat hulle wegsteek.
“Hy verdien nie dié behandeling nie. As hulle hom dan wil beskuldig, moet hy ten minste ’n regverdige verhoor kry.”
Karabus sr. is op 18 Augustus op die lughawe in Dubai in hegtenis geneem op pad terug van ’n familietroue.
Michael sê met elke hofverskyning kry die familie nuwe hoop, net om weer platgeslaan te word.
“Ek hoop nou my pa sal betyds by die huis wees vir die geboorte van my eersteling in Januarie.”
Dr. Sarah Karabus, Michael se suster, sê sy het nie meer woorde om die hartseer oor haar pa te beskryf nie.
Karabus se Suid-Afrikaanse regsverteenwoordiger, Michael Bagraim, sê die familie was so oortuig hy kom die naweek huis toe dat hulle al op die internet na vliegkaartjies gesoek het.
Nou het Karabus se vrou, Jenifer, die naweek na Dubai gevlieg. Bagraim sê hy is bekommerd oor Karabus se gesondheid.
“Dit gaan ál meer agteruit.”