Fris dogtertjie vir koma-vrou
2012-01-28 23:10
Hanri Wondergem in Potchefstroom
Die jong vrou wat byna vier maande in ’n koma was terwyl sy swanger was, het Dinsdag wonderbaarlik geboorte gegee aan ’n fris en gesonde babadogtertjie.
Trane van blydskap het oor die wange van dokters, verpleegsters en familie gevloei toe mev. Didi van der Merwe se baba, Yalinka, die eerste lewenslig aanskou het.
Yalinka het binne 20 minute en sonder keisersnee of ander ingryping die lig gesien. Sy het 2,7 kg geweeg.
Rapport het op 20 November berig oor Didi (22) wat op 3 Oktober in ’n grusame motorongeluk was. Dit was tien dae ná haar troudag.
Sy het ernstige breinbeserings opgedoen en was sedertdien in ’n semi-koma in die rehabilitasie-afdeling van die Witrand-hospitaal in Potchefstroom.
Didi was sowat vier maande swanger toe die ongeluk gebeur het. Dit is niks minder as ’n mediese wonderwerk nie, jubel dr. Theuns Oosthuizen, mediese bestuurder van Witrand.
Hý het Didi Dinsdag hoor huil toe hy by sy pasiënt inloer.
“Ek het dadelik besef dis ’n ander huil as wat sy gewoonlik huil. Ek het vir die suster gesê sy is in kraam.”
Twintig minute later is die baba in die Potchefstroom-hospitaal gebore.
By Rapport se besoek het Didi groot-oog na haar baba in haar arms gekyk met ’n skewe glimlag.
Sy is nou by haar volle bewussyn en al kan sy nog nie praat nie, kommunikeer sy duidelik met haar emosies. Haar man, mnr. Chris van der Merwe, wat haar sedert die ongeluk daagliks besoek, is oorweldig.
“Ek het geweet sy (Yalinka) kan dalk vroeër kom, maar ek het nie gedink so vroeg nie.”
’n Keisersnee is vir 20 Februarie beplan, maar Didi het Dinsdag op 34 weke spontaan begin kraam.
Van der Merwe het Dinsdagaand in die hospitaal langs haar bed geslaap.
Hy sê oor en oor dankie vir sy dapper vrou en die mediese personeel van die Witrand-hospitaal.
Didi se verhaal het me. Naledi Mocwaledi Senyane, uitvoerende hoof van Witrand, aangegryp.
“Didi, die baba en Chris sal altyd deel van ons familie hier by Witrand wees.”
Yalinka gaan moontlik môre saam met Chris huis toe, terwyl Didi na die Witrand-hospitaal terugkeer.
“Yalinka gaan baie by haar ma kom kuier en ek sal foto’s ook opsit. Yalinka lyk klaar soos Didi,” sê van der Merwe.
Oosthuizen kan nie ’n spesifieke dag of datum gee wanneer Didi uit die semi-koma ontwaak het nie, maar sê die afgelope vier weke het sy drastiese vordering getoon.
Tydens haar swangerskap was dit moeilik om haar te behandel. Daar kan egter nou intensief met haar begin werk word en sy kan nou medikasie neem wat nie tydens haar swangerskap gedoen kon word nie.
“Rehabilitasie ná ’n breinbesering is ’n leerproses. Om te leer moet ’n mens wakker wees en kan konsentreer,” verduidelik Oosthuizen.
Didi kan nou gemaklik regop sit en slukbewegings begin oefen.
Die gedeelte in Didi se brein waar die spraaksentrums geleë is, het skade opgedoen, sê Oosthuizen. Sy sal nog minstens drie maande in die hospitaal wees.
“Dan sal sy moontlik as buite-pasiënt behandel word.”
Sy het reeds een breinoperasie ondergaan.
In die nabye toekoms sal die gedeelte van haar skedel wat verwyder is, terug geplaas word en ’n voedingsbuis gaan voorlopig in haar maag geplaas word.
“Ek kan nie nou al die volledige uitkoms voorspel nie. Sy het nog nie volle, doelgerigte beweging van al haar ledemate nie; daar lê nog baie werk voor,” sê Oosthuizen, maar hy glimlag breed oor die vordering wat sy reeds toon.