Gebou bly dalk langer dolleeg
2013-01-05 23:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Xolani Mbanjwa in Johannesburg
’n Multimiljoenrand-winkelsentrum in Pretoria wat die “Kroonjuweel van Tshwane” gedoop is, staan al langer as twee jaar halfgebou soos ’n spooksentrum.
Die ontwikkelaars se geld het opgedroog nadat beleggingsgeld van die omstrede Sharemax Investments in die projek belê is.
Die bouprojek in Moreletapark en Wingatepark is twee jaar gelede gestaak nadat die boumaatskappy halt geroep het toe die bouer, Capicol, se geld opgedroog het.
Die inwoners sê die gebou staan soos ’n seer oog uit.
Paul Kyriacou, direkteur van Capicol, het aan City Press, susterskoerant van Rapport, gesê dit is onseker of die bouwerk vanjaar hervat gaan word omdat hulle steeds op soek is na direkteure wat ’n geraamde R1,5 miljard in die winkelsentrum sal belê.
“Alles is nog net soos toe ons met die bouwerk opgehou het. Niks het nog verander nie,” het hy gesê.
Sharemax Investments het miljoene rande van beleggers verloor toe die geld in Desember 2010 opgeraak het.
Die winkelsentrum was veronderstel om in Augustus 2011 oop te maak, teen ’n geraamde koste van R3,5 miljard, met 300 winkels.
Dit sou ook ’n R65 miljoen-verbetering van die Delmasweg-en-De Villebois Mareuilrylaan-kruising ingesluit het om verkeer te verlig.
Daar is reeds in 2008 begin om verhuringkontrakte vir eenhede in die sentrum te sluit.
Die Italiaanse modehuis Ermenegildo Zegna het beplan om sy eerste Suid-Afrikaanse tak in dié sentrum oop te maak.
Dit het egter op niks uitgeloop nie.
Altesame 78 huise is gesloop om plek te maak vir die ontwikkeling.
’n Vyfsterhotel sou deel uitmaak van die kompleks 130 000 m².
Die onvoltooide gebou.