‘Gee kans’ vra man ná sy vrou arm verloor
2012-07-07 23:31
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
“Niemand kan hom werklik indink hoe dit is om skielik sonder ’n ledemaat te moet regkom nie. ’n Mens kan jou eenvoudig nie op so iets voorberei nie. Dis iets wat nooit moes gebeur het nie.”
So sê dr. André Greeff, die eggenoot van Heila Greeff (49) van Uitenhage. Dit is ’n maand sedert sy vrou se regterarm geamputeer moes word nadat sy deur hul buurman se boerboel-kruising aangeval is.
Die hond, Mufasa, het Heila gegryp toe sy die oggend gaan stap het en het haar regterarm erg verniel voordat tuinwerkers die hond met randsnyers verwilder het.
Mufasa is van kant gemaak.
Heila is twee weke gelede uit die Netcare Cuyler-hospitaal op Uitenhage ontslaan waar sy lank in die hoësorgeenheid was. Sy ontvang nou arbeidsterapie.
André weier nog dat sy vrou met die media praat. “Ons moet haar eers ’n kans gee.
“Jy moet verstaan dis vir haar, vir ons hele gesin, ’n reuse-aanpassing. My vrou was regs, sy moet nou leer links skryf. Hierin het sy nie ’n keuse nie.
“As so iets met ’n mens gebeur soos wat met Heila gebeur het, kan jy nie sê nie: ‘Ek wil dit hê, of ek wil dat hê.’ Jy stap aan. Jy doen nuwe goed. Jy behaal sukses.
“Ek kan nie ontken hier is baie emosies betrokke nie. Ons hele gesin weet ons stap nou ’n lang pad. Elke dag is daar iets bykomends wat sy, en ons almal, moet byleer net om weer soos altyd te funksioneer.”
Haar innerlike en fisieke krag tel in haar guns, sê André. “Sy is fisiek sterk, en sy is gelowig.”
Die “laaste ding” wat hulle as gesin doen, “is om hoekom-vrae te vra”. “As jy eers dit begin doen, sal jy jouself in ’n doolhof in dink.”
André oorweeg ’n siviele eis teen die hond se eienaar, Adriaan Benecke.
’n Verpleegster van Germiston het ’n eis van R965 000 ingestel teen die eienaars van ’n Amerikaanse veghond (pit bull) wat haar aan die been gebyt het nadat dié hond haar seun se hond doodgebyt en omstanders aangeval het.