Geen nasionalisering
2012-12-21 12:12
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Bloemfontein. – Die ANC het gister die nasionaliseringspook begrawe en só baie vir beleggersvertroue gedoen.
Enoch Godongwana, ekonomiese beleidsleier van die ANC, het gesê nasionalisering is van die tafel af, maar die staat sal “waar nodig” sy belange in die private sektor versterk.
Malusi Gigaba, minister van openbare ondernemings, het gesê dit beteken net die staat sal ingryp as dit nodig is. “Nes in die VSA toe die staat, met die ekonomiese krisis daar, van die maatskappye oorgeneem het.”
Die ANC se ekonomiese komitee het gesê benewens die besluit oor nasionalisering gaan die party ook spoedig besluit oor maniere om die jeug in die ekonomie aktief te kry.
Gigaba het gesê die party se alliansievennote sal moet skiet gee, want die werkloosheid onder die jeug kort ingryping.
Godongwana het gesê arbeidsmakelaars – nog ’n sensitiewe saak vir Cosatu – sal gereguleerd toegepas word.
Ontleders het gesê die aankondigings is ’n sterk swaai na die middel. Hoewel die nasionaliseringsbesluit wyd verwelkom is, is daar kommer oor die onsekerheid rondom ’n voorgestelde mynboubelasting. Die ANC het net gesê so ’n belasting moet ontwikkel en ingestel word.
Een omstrede aankondiging was oor grondbesit deur buitelanders. “In beginsel het die ANC besluit ons is gekant daarteen,” het Godongwana gesê.
Die komitee is gevra of wat die besluite sal doen aan sy verhouding met sy alliansievennote nie die ANC kwel nie. “Dit is nou die werk van die ANC se nuwe topses-leiers om met die alliansievennote te vergader om samehorigheid oor beleid te verkry,” het Gigaba gesê.