Gemeentedogters laat ‘kaal’ ds. in die steek
2012-09-16 00:27
Johannes de Villiers in Pretoria
Dominee Bertus soek drie kaal vroue aan die Wes-Rand.
Hulle moet mooi wees, verkieslik jonk, hoewel elke geval op meriete beoordeel sal word. (“’n Mooi 50-jarige is vir my ook baie mooi.”)
En die heel belangrikste: Hulle moet bereid wees om op sy partytjie kaalbas te kom perdry.
Rapport het vroeër vanjaar berig oor ds. Bertus van Niekerk, voorheen leraar van die Hervormde gemeente Carletonville, maar deesdae predikant by die Kaapse gemeente van die onafhanklike kerk Renaissance.
Wanneer hy nie preek nie, is Van Niekerk onder meer wynmaker. Sy jongste reeks van vier wyne dra die naam “Revelation” en op al vier se etikette is uitbeeldings van die ruiters van Openbaring.
Toe Van Niekerk in Maart vanjaar die eerste van dié vier wyne, ’n cinsaut, by ’n spoggeleentheid by die Helderberg bekend gestel het, het hy ’n paar lede van die wyn-adel in hul glase laat stik toe ’n poedelkaal meisie op die rug van ’n perd by die geleentheid opdaag.
Van Niekerk het gereël dat sy die partytjie bywoon om een van die vier ruiters van die apokalips te simboliseer.
Nou het hy besluit om op Carletonville, waar hy 16 jaar lank predikant was, ’n bekendstelling vir die ander drie wyne in sy reeks te reël. En daarvoor benodig hy drie kaal vroue om die geleentheid te perd by te woon.
“Drie van die gemeentedogters wat op Carletonville voor my grootgeword het, het laat weet hulle sou kom uithelp, maar die afgelope Maandag het al drie laat weet iets het voorgeval.
“Verdomp, die mense trek almal kleinkoppie. Ek weet nie of die noorde meer konserwatief as die suide is nie, maar in die Kaap staan ’n rits meisies tou om so iets te kom doen.”
Die meisies hoef nie bekommerd te wees dat die geleentheid smerig gaan wees nie, sê Van Niekerk. Sy wyne is op elite-verbruikers gerig (dis duur en hy maak net 120 bottels van elk), so die geleentheid gaan deur sakeleiers en ander hooggeplaastes bygewoon word.
Ook die ligging van die geleentheid word slegs aan gaste bekend gemaak om te keer dat agies na die vroue kom loer.
Hoewel ’n gemeentedogter uit sy voormalige kudde foto’s gaan neem, sal ook dié smaakvol wees.
“Iemand het my gevra of ’n kaal man welkom sal wees, en ek het gesê as ’n kaal man een van die meisies se perd wil kom lei en sy toom wil vashou, het ek geen beswaar daarteen nie.”
Volgens Van Niekerk is die wyne wat bekend gestel word ’n houtgegiste riesling, ’n cabernet en ’n chardonnay. Die etikette is deur sy vrou, die kunstenaar Selma Albasini, ontwerp.
Sy Kaapse wynbekendstelling het die tonge behoorlik los gehad. Een gas het teenoor Rapport opgemerk dit was “die vreemdste wynbekendstelling waarop ek nog was. Poedelkaal kom die meisie daar aan en bestyg die perd, min gepla. Ek dog ek yl.”
Volgens Van Niekerk was daar egter talle gaste wat entoesiasties gereageer het. “Van die gaste het selfs gevra of hulle ook maar hul klere kan uittrek en ek het gesê ék gaan hulle nie keer nie.”
Belangstellendes kan hom by bertus@osbloed.com kontak.