'Groeikoers geknel deur SEB'
2012-10-25 10:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Philda Essop en Wolfram Zwecker, BEELD
Kaapstad. – Suid-Afrika kon vandag ekonomies en maatskaplik ver gevorderd gewees het as dié land weggebly het van die beleid van swart ekonomiese bemagtiging (SEB).
Met alternatiewe opsies vir dié beleid kon Suid-Afrika vandag ’n ekonomiese groeikoers van 10% gehad het, het dr. Mamphela Ramphele, akademikus, aktivis en sakevrou, gisteraand hier by die bekendstelling van haar boek Conversations With My Sons and Daughters gesê.
Sy was baie krities oor SEB en het gesê dit legitimeer die koop van invloed. “Dit spoor die begunstiging van vriende en korrupsie aan en skep tenderpreneurs.”
Op ’n vraag oor watter alternatiewe daar is, het Ramphele gesê sy sou in 1994 aanbeveel het dat Suid-Afrika die roete kies wat Duitsland destyds ingeslaan het.
Die Duitsers het sterk op onderwys gefokus.
“Die Duitsers het gaan kyk wat hul kernprestasiegebiede was en deur middel van onderwys daarop voortgebou.
“In plaas van die (multimiljardrand) wapentransaksie, sou breëband-konneksies vir elke skool in die land voorsien gewees het. As dit gebeur het, sou die land vandag teen 10% gegroei het.”
Die “onderwysskip” is boonop al amper op die rotse en aan die kantel, maar die “kaptein” slaap, want sy kinders is veilig in private skole, het sy vroeër gister op die kongres van die onderwysersvakbond Naptosa in Benoni gesê.
Sy het die voorbeeld van die Italiaanse passasierskip die Costa Concordia voorgehou, waar die kaptein geslaap het toe sy skip op die rotse geloop het.
Soos kapt. Francesco Schettino, wat eerste van die skip af was, is die regeringsamptenare eerste om hul kinders na die “veiligheid” van private skole te bring.
Volgens Ramphele het dit tyd geword dat ouers en rolspelers in leerlinge se opvoeding begin opstaan vir hul regte. “Ek praat nie net van die handboeke nie. Vakante onderwysposte moet gevul word, en kundiges en spesialiste moet ingespan word,” het sy gesê.