Groen mannetjies welkom in Orania
2011-07-09 21:12
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Sommige mense dink Orania is ’n enklawe net vir wit mense, maar inderwaarheid is groen mannetjies ook daar welkom.
Dié volkstaat in die Noord-Kaap bied al vyf jaar die grootste (en moontlik enigste) wetenskapfiksie-skryfkompetisie in Afrikaans aan.
Dan skryf Oraniërs – van hoërskoolleerlinge tot ondersteuners elders in die land – ywerig stories oor ruimtewesens, parapsigologiese verskynsels en ander futuristiese aangeleenthede en stuur dit in met die hoop dat hulle ’n silwermedalje en die titel wetenskapfiksieskrywer van die jaar kan losskryf.
Die spertyd vir inskrywings vir vanjaar se kompetisie was verlede Vrydag, maar mnr. Gerhardus Thompson, organiseerder, finansierder en beoordelaar, sê hulle aanvaar nog inskrywings.
Terwyl Afrikaanse uitgewers deesdae byna as ’n reël onwillig is om dié futuristiese genre te publiseer (van die groot uitgewers sê uitdruklik hulle gee nie wetenskapfiksie uit tensy dit op die jeugmark gemik is nie) bind die Oraniërs al hul inskrywings jaarliks in ’n boekie getiteld Stories uit Orania en verkoop dit uit ’n winkel in die dorp.
Verlede jaar se wenner, byvoorbeeld, was ’n storie getiteld “Hades” deur Francois de Vos oor ’n heldepoging om te keer dat ’n booswig die aarde verwoes. Die vorige jaar se wenner was dr. Johan Strydom met ’n storie oor telepatie genaamd “Newe-effekte van navorsing”.
En in 2008 was die wenner ’n hoërskoolleerling van Orania, Danie Els, met ’n storie wat ’n heel oulike boodskap oor versoening gehad het.
“Danie het dit geskryf in ’n tyd toe voedseltekorte groot nuus in die media was,” sê Thompson.
“’n Karakter genaamd Volkaan kom eendag by sy huis en sien mense het dit geplunder om sy kos te steel. Hulle het ook sy suster vermoor. Hy worstel daarmee of hy wraak moet neem, maar uiteindelik besluit hy daarteen.”
En hoe gebeur dit dat Afrikaans se enigste wetenskapfiksieskryfkompetisie doer in die Noord-Kaap gehou word?
Thompson, wat as Engels-onderwyser in Taiwan werk en die kompetisie oor dié lang afstand reël, sê hy is ’n groot aanhanger van dié genre en wou ’n woordeboek met Afrikaanse wetenskapfiksieterme saamstel.
“Maar ek het uitgevind daar word omtrent geen nuwe Afrikaanse wetenskapfiksie uitgegee nie. Ek het dus maar die skryfkompetisie saam met die Orania-beweging begin om Afrikaanse wetenskapfiksie te bevorder.
“Hulle bemark dit en nooi mense in die dorp om in te skryf.”
Stories moet tussen 3 000 en 5 000 woorde lank wees. Diegene wat nog wil inskryf, kan dié inligting op afrifiksie.com kry.