Gru-gesig ná haar gil
2013-01-05 23:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Johan Eybers in Johannesburg
Daar was ’n gil en toe sy afkyk, sien sy die meisie oor die steil rotswand tuimel. Toe nog ’n gil en haar ma val agterna, 30 m ver tot op die klipharde rotse onder die waterval.
Dit was die afgryslikste oomblik van haar lewe, vertel Pat Reeves-Moore oor voorverlede Vrydagmiddag toe die 13-jarige Shanté Prinsloo en haar ma, Adele (34), by die Rietfontein-waterval buite Sabie na hul dood geval het.
Reeves-Moore, die enigste ooggetuie van die tragedie, het ’n derde persoon hoor val, maar niks gesien nie. Eers later sou sy besef dit was Shanté se pa, Pieter (38). Hy het saam met sy vrou en dogter gesterf.
Wat sy aanskou het, sal haar vir altyd bybly, sê Reeves-Moore.
“Ek sukkel nou nog om daaroor te kom.”
Sy stap 15 jaar lank al elke dag met haar honde op ’n roete verby die ingang van die waterval. Sy was net mooi om 17:00 die middag op die piek van ’n heuwel met ’n uitsig oor die waterval toe sy daardie verskriklike gil hoor. “Dit is toe dat ek die jong meisie sien.”
En oomblikke later ’n volwassene met lang, rooi hare...
Reeves-Moore kon sien dit was ’n vrou.
Sy het loodreg na benede aan die linkerkant van die waterval tussen ’n klomp bome geval en toe tot in ’n vlak poel water, sê Reeves-Moore.
“Ek het geweet albei mense is dood. Geen mens kon dit oorleef het nie.”
Sy het geskok haar buurman Shawne Botha laat weet.
Hy bedryf die Sabie Star Chalets, waar die Prinsloo-gesin daardie oggend vir hul vakansie aangekom het.
Net ’n rukkie voor die tragedie het sy vrou, Sharon, nog gesien hoe die gesinnetjie op ’n wandeling vertrek.
Later die Vrydagmiddag het polisieduikers Adele se lyk uit die poel gehaal. Shanté was sowat 30 m stroomaf en Pieter is eers die volgende oggend op die bodem van ’n poel gevind.
Reeves-Moore glo nie die bespiegeling dat die gesin gegly het toe hulle die waterval hand-aan-hand probeer oorsteek het nie.
“Ek kan nie sê presies wat gebeur het nie, want ek het nie als gesien nie. Wat ek wel beslis weet, is dat Shanté eerste geval het en haar ouers later. Hulle het ook nie by dieselfde plek geval nie,” sê sy.
Sy vermoed Shanté het oor die rotswand geloer toe sy gegly het. Toe haar ouers haar probeer help, is hulle saamgesleep. “Die klippe daar is verskriklik glad,” sê Reeves-Moore.
Die volgende dag het Pieter en Adele se ouers, Santa en Piet Prinsloo van Springs en Ansie en Johan Neethling van Bronkhorstspruit, saam na Sabie gery om hul kinders se besittings en hul motor te gaan haal.
“Dit was verskriklik hartseer om die ongelukstoneel te besoek en te besef dit was die laaste oomblikke van hul lewe. Ek het blommetjies daar naby neergesit, want ons kon nie by die plek uitkom waar hulle dood is nie,” het Santa in trane vertel.
