Haal ras van vorms af, eis veldtog
2012-10-20 23:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Etikette soos wit, bruin, swart en Indiër het geen plek in ’n nie-rassige Suid-Afrika nie, sê ’n groep studente wat wil veg totdat die “rasboksie” van amptelike vorms verdwyn.
Die veldtog SA1 is die afgelope week op die kampus van die Universiteit van Stellenbosch (US) gestig en gaan onder meer die staat, banke en tersiêre instellings teiken.
Dit kom sowat twee jaar nadat Glen Snyman van Oudtshoorn ’n stryd op die sosiale netwerk Facebook en elders aangekondig het teen rasklassifikasie, wat volgens Snyman die “hoeksteen” van apartheid was.
Sy organisasie, People Against Race Classification (Parc), sê ondersteuners aan om “rasboksies” nie in te vul nie, of te sê hulle is swart as hulle moet.
SA1 se voorsitter, Nico de Wet, stem met Snyman saam dat ras nie meer ’n voldoende aanwyser van sosiaal-ekonomiese bevoordeling is nie.
“Ons is die eerste generasie jongmense ná 1994. Rasverwysings is argaïes, oorvereenvoudig, onwetenskaplik en rigied en word aan Suid-Afrikaners opgedwing.”
Volgens Anelia Heese, bestuurslid en woordvoerder van SA1, is ras wel vir baie Suid-Afrikaners nog ’n emosionele kwessie.
“Ons wil nie dat dit meer ’n allesbepalende rol speel nie. Tog word so baie van ons omstandighede vandag bepaal deur die rol wat ras in die verlede gespeel het.”
Magdalene Moonsamy, bedryfshoof van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap en nasionale woordvoerder van die ANC-jeugliga, het by die bekendstelling van SA1 gesê ras bly relevant omdat wit mense ekonomies bevoordeel is deur apartheid.