Heese, Mouton bedank oor US ‘te wit, Engels’ is
2009-09-19 23:45
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die bedanking van dr. Marié Heese en mnr. Jannie Mouton uit die raad van die Universiteit van Stellenbosch (US) is ’n simptoom van “ ’n dieper wordende krisis oor Afrikaans” op die kampus.
Heese, ’n skrywer en opvoedkundige, is in April verlede jaar tot die raad verkies en haar ampstermyn sou in April 2012 verstryk het. Mouton, sakeman en voorsitter van die PSG-groep, wat ook in 2008 verkies is, se ampstermyn sou in Mei 2011 verstryk het.
Heese se bedanking is Maandagaand deur die raad aanvaar. Mouton het in Junie al die pad gevat.
Hoewel Heese gevra het haar bedankingsbrief moet aan die raad voorgelees word, het die US by navraag gesê nóg Heese nóg Mouton se briewe is voorgelees omdat dit “nie die gebruik” is nie.
Hul bedankings word egter “met spyt” aanvaar.
Dié gebeure is deel van intense woelinge die afgelope maande in die raad oor die stand van Afrikaans as voer- en onderrigtaal by Maties – ondanks die feit dat die rektor, prof. Russel Botman, die afgelope maande herhaaldelik die versekering gegee het dat Afrikaans se toekoms hier rooskleurig is.
Heese, dogter van die skrywer Audrey Blignaut, is in Junie deur die raad op die vingers getik omdat ’n mosie van sensuur teen haar ingedien is oor haar beweerde verbreking van protokol toe sy raadskwessies in die media bespreek het. Sy het erken sy het dit gedoen, “vir die groter saak”.
Mouton, Heese en nog vier raadslede, proff. Lina Spies, Hermann Giliomee, Christo Viljoen en dr. Adelberg Scholtz, het toe uit dié raadsvergadering gestap.
Gister het Heese in ’n artikel in die bylae By in Beeld en Die Burger hart skoongemaak oor die US-bestuur se hantering van Afrikaans.
Sy sê nóg sy nóg Mouton “wil op rekord gaan as lid van die raad wat die US laat verengels het. Die geskiedenis sal uitwys die huidige bestuur het die US stelselmatig verengels. Hulle moet daarmee saamleef”.
“Raadslede probeer al maande lank uitvind hoeveel dosente nie in Afrikaans kan klasgee nie. Antwoord: Dis nie op die US-databank nie. Hoekom nie? Hoe moeilik kan dit wees om uit te vind? Wat mag ons nie weet nie?” het sy geskryf.
Giliomee het gister by navraag gesê “jy kan my aanhaal dat ek sê Jannie Mouton het my meegedeel hy het bedank omdat die US te wit en te Engels raak”.
Nog ’n raadslid het aan Rapport gesê Heese en Mouton se bedankings is deel van ’n “dieper wordende krisis oor Afrikaans” by die Maties.
- Rapport