Herrie oor groot beurs vir André P. Brink
2009-12-05 22:30
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dit gons in die skrywersgemeenskap oor die toekenning van die grootste beurs vir Afrikaanse skryfwerk aan André P. Brink.
Die Jan Rabie en Marjorie Wallace-beurs van R350 000 word gefinansier uit die boedel van die kunstenaar Wallace en haar man, die skrywer Rabie.
Rabie is in 2001 oorlede en Wallace in 2005.
Dié testamentêre bemaking word deur die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) geadministreer en van vanjaar jaarliks toegeken.
Die 92 aansoeke is deur die skrywers Chris Barnard en E.K.M. Dido, en die voorsitter van UWK se departement Afrikaans en Nederlands, prof. Steward van Wyk, beoordeel en Donderdag aan Brink toegeken.
Vrydag het die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) gesê die keurders het hulle nie vergewis van die “letter en gees” van die Rabie-Wallace-testament nie, en dat ’n “verdienstelike skrywer van kleur” dalk ’n beter keuse sou wees.
Ook op Facebook het dit gegons soos skrywers foutgevind het daarmee dat die bekroonde Brink, “wat in elk geval ’n gevestigde skrywer is wat voltyds skryf”, dié groot beurs ontvang het.
Die ASV-voorsitter, die skrywer Willem Fransman jr., sê die beurs “is toegeken aan ’n uitmuntende kreatiewe mens wat dit verdien.
“Ons probleem lê nie by Brink nie, maar by die keurders. Sonder om afbreuk te doen wonder ’n mens of die beurs nie aan ’n verdienstelike skrywer van kleur moes gegaan het nie. Wat veral baat sou vind by die testamentêre bepaling ‘dat die skrywers sonder sorge?… moet kan skryf’. Ons reken daar was onder die 92 seker ook ander ‘verdiens-telikes’ wat hieraan sou voldoen.”
By navraag het Dido gister gesê Brink se aansoek vir sy boek oor die slawevrou Philida “het kop en skouers bo die res uitgestaan, hoewel nog twee skrywers op die kortlys was.
“As die ander twee gewen het, sou die reaksie dieselfde gewees het. Ons het dit verwag.
“Ons het gekyk na presies dít wat voor ons is – die aansoek op die tafel. Ook die diepte van die werk. Nie agtergrondskennis oor die skrywer nie.
“Dié toekenning moet as motivering dien vir skrywers wat weer aansoek wil doen.
“Om te praat van ‘bruin’, wys my daar is nog skrywers wat nie vrede gemaak het met hul identiteit nie. Hoe lank moet ek nog as ’n ‘agtergeblewene’ geëtiketteer word?”
Die drie keurders het nie vooraf gekoukus nie, sê sy. “Ons het bymekaar gekom, elk met sy eie keuse, en Brink het elke keer uitgestaan. Die groter komitee het ons ook skerp uitgevra oor ‘agtergeblewe’ skrywers. So ’n etiket laat my nie toe om vorentoe te beur en te strewe na prestasie nie?…
“En het skryfwerk dan ’n ouderdomsbeperking?”
Planne om ’n beurs vir skilderkuns toe te ken, gaan binnekort bekend gemaak word, sê sy.
- Rapport