Hestrie en haar ouersmaak ná 3 jaar vrede
2009-10-31 23:21
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Hestrie Els, die Olimpiese atleet en vrou van die sanger Jurie Els, wat nou in Nieu-Seeland woon, het Sondag tydens ’n emosionele besoek vrede met haar ouers gemaak.
Sy het hulle vir die eerste keer in drie jaar gesien.
Hestrie het gister van Pretoria na Coligny gery om haar kinders, Chrizette (3) en Jason (16 maande), vir hul ouma en oupa, Martie en Willem Storbeck, te gaan wys.
En daar was baie trane, sê Hestrie.
Ouma Martie het haar kleinkinders styf vasgehou. Sy het hulle nog net op foto’s in die media gesien.
Hestrie het in 2006 laas met haar ouers gepraat nadat hulle voor Chrizette se geboorte rusie gemaak het. Haar ouers wou besluit wie Chrizette vir haar doop die kerk sou indra en Hestrie het haar vererg.
Hieroor is sy baie spyt.
“Ek het onlangs in Auckland na ’n TV-program gekyk waarin die prediker gepraat het oor vergifnis. As jy nie vergewe nie, kan jy nie van God verwag om jou te vergewe nie,” sê Hestrie.
“Ek het net daar besluit om vir my ouers ’n brief te skryf. My pa het my gebel en ons het so gehuil. My ma het later na die foon gekom en ons was in snot en trane.”
Ongeveer ’n jaar voor haar troue het Hestrie en haar ouers ook rusie gemaak nadat die Storbecks haar in die media bespreek het. Hulle het kort daarna vrede gemaak.
Soos dit ’n ouma betaam, het Hestrie se ma al Vrydag begin bak vir haar kleinkinders. “Chrizette se bestelling was ‘swart koek’ – dis wat sy sjokoladekoek noem.”
Hestrie is die afgelope week in winkelsentrums in Pretoria opgemerk waar sy saam met onder andere die ontwerper Simon Rademan koffie gedrink het. “Behalwe my vriende het ek ook baie na groen ‘cream soda’ en lekker seekos gesmag. Daar anderkant het hulle wit ‘cream soda’ - dis nie dieselfde nie.”
- Die Else het verlede naweek uit Nieu-Seeland in Suid-Afrika aangekom vir Jurie se hofsaak waarin die sanger Robbie Klay hom van molestering aankla. Dít begin môre in Pretoria.
Oor haar man se onskuld twyfel sy nie. “Ek is nie bekommerd nie, want ek weet wie en wat my man is.”
- Rapport