Historikus kap terug oor 'kampe Boere higiëne leer'
2010-06-19 23:15
Johannes de Villiers in Johannesburg
Dit is die plek waar Boerevroue op die moderne stadslewe voorberei is en waar hulle oor higiëne (onder meer toiletmaniere) geleer het.
Dié nuwe mening oor die Anglo-Boereoorlog se konsentrasiekampe wat pas in ’n akademiese artikel gelug is, dreig om ’n lewendige debat onder historici te ontketen.
Dr. Elizabeth van Heyningen skryf in ’n artikel in die jongste South African Journal of Science dat hoewel die duisende sterftes in dié kampe ’n tragiese gevolg van epidemies en owerhede se onbekwaamheid was, dié kampe dalk ook ’n “voertuig vir die modernisering” van die Boerevolk was.
Prof. Fransjohan Pretorius, historikus aan die Universiteit van Pretoria, het egter in reaksie gesê hy dink Van Heyningen gee die kampe “bietjie te veel onbewese krediet”.
Van Heyningen skryf die Britte is in die kampe gedwing om skoon water en moderne sanitasie in te span ten einde die Boere se gesondheid te verseker. “Dit het die Boere ’n smaak vir die moderne stedelike lewe gegee wat hulle meer volledig sou beleef in die jare ná die oorlog.”
Heelwat aandag word in Van Heyningen se artikel aan epidemies en sterftes gegee, maar tog wys sy heelwat positiewe ontwikkelings van die kampe uit.
Die kampe was soos groot dorpe waar die landelike Boere vir die eerste keer aan grootskaalse openbare gesondheidsmaatreëls bekend gestel is.
In die artikel skryf sy onder meer dat die Boerevroue in die kampe van sanitasie en toiletgeriewe geleer het.
“Die Boere se plase het geen sanitasiegeriewe gehad nie. Hoewel die Afrikanermiddelklas later geen erg aan verslae van die Boere se sanitasiegewoontes sou hê nie, laat dit min twyfel dat die meeste Boere in die kampe bywoners eerder as lede van die middelklas was en dat hulle in gemaklike assosiasie met menslike en dierlike ontlasting geleef het…
“Inwoners van kampe moes geleer word om nie die grond rondom hul tente te bevuil nie, om nie slopemmers en vuilgoed uit te gooi nie en (met moeite) om gemeenskaplike toilette te gebruik.”
Op laasgenoemde bewering reageer Pretorius soos volg: “Sekerlik was die middelklas-Afrikaner op die plaas nie gewoond aan die middelklas-sanitasie-ervaring in Brittanje nie, maar om bloot te aanvaar dat alle Boerevroue nie omgegee het om riool tussen die tente in te smyt nie, is eenvoudig te ongenuanseerd om te aanvaar.”
Pretorius sê hy het baie respek vir Van Heyningen (“haar werk getuig van deeglike navorsing”), maar hy meen sy maak ’n fout om te dink die kampe het van meet af vir mense beter gesondheidsgewoontes geleer.
“Dié verbeterings was eers sigbaar ná Emily Hobhouse se ongewilde bekendmaking in Brittanje van die toestande in die kampe, waarop die Britse regering uiteindelik in Augustus en September 1901 die Fawcett-dameskomitee gestuur het om kampe te inspekteer.” Dié kommissie se aanbevelings is boonop eers ná November 1901 uitgevoer.
Die verbeterde situasie in die konsentrasiekampe in 1902 “was enersyds omdat Milner die Afrikaners wou inlei in die wonderlike, superieure Britse kultuur, maar andersyds was dit eenvoudig aggressiewe imperialisme, om van die Boere goeie Britte te maak”.