Hoe minder geld, hoe groter die klas
2009-11-15 00:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Onbetaalde skoolgeld word toenemend ’n kopseer vir skole.
Hierdie bedrag, sowel as die koste van leerlinge wat daarvan vrygestel word, beloop gemiddeld ’n kwart van skole se uitgawes. Dit maak die jaarlikse begrotings ’n fyn balanseertoertjie.
Mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê as skoolgeld te duur word en meer ouers betaal nie, sal ’n skool minder geld hê vir beheerliggaamposte. Klasse sal gevolglik groter raak.
’n Opname wat Fedsas onder 419 van sy ledeskole gedoen het, toon dat onbetaalde skoolgeld gemiddeld 14,23% van uitgawes beloop en vrystellings 11,72%.
Dit was die grootste uitgawes naas die salarisse van beheerliggaampersoneel, wat gemiddeld 37,56% van skole se besteding uitmaak.
Colditz sê benewens die impak van stygende elektrisiteittariewe, behoort die situasie vandag min of meer dieselfde te wees as in 2008 toe die opname gedoen is.
Beheerliggaamposte lei tot kleiner klasse, meer gespesialiseerde aandag en ’n groter verskeidenheid geleenthede.
Die opname het getoon die onderwyser-leerling-verhouding in dié betrokke skole was sowat 7% laer as in skole waar opvoeders slegs deur die staat betaal word.
Colditz sê in die Wes-Kaap was die verskil selfs tot 16% en in Gauteng 11%.
Skole se uitgawes aan munisipale dienste het in 2008 gemiddeld 6,56% beloop, maar Colditz raam dit kan aanstaande jaar tot 10% wees.
“Dit moet gesien word teen die agtergrond dat die staat se bydrae tot deelnemende skole se bedryfskoste slegs sowat 12% per jaar was.”
Volgens die opname onder die 419 hoër- en laerskole is Gauteng se gemiddelde skoolgeld die hoogste (net meer as R5 000). Die nasionale gemiddeld is R3 900.
- Rapport