‘Hoe wys ’n mens jy het berou?’
2010-03-06 23:01
Eugene de Kock is in ’n ernstige bui.
“Ek kan soveel voete gaan was as wat ek wil, dan sê hulle ek’s ’n slapgat.
“Of ek kan daar gaan sit met trane in my oë, dan sê hulle: ‘Hy sit net ’n show op voor die kamera.’
“Hoe wys jy jy’s jammer? Is daar die een of ander glyskaal om die mate van berou te toon?”
Ons sit in die besoekersarea van die Pretoria-Sentraal-gevangenis se C-afdeling, waar van die land se mees berugte kwaaddoeners hul dae slyt.
In die een hoek is ’n klimraam en glyplank vir die kinders wat kom besoek aflê. Gevangenes en hul gaste kuier op houtbankies en eet toebroodjies, Simba-skyfies en koeldrank wat hulle by die tronk se snoepwinkel gekoop het.
Hoe wys ’n mens jy het berou?
De Kock is onseker, maar sê dan: “Miskien kan ’n mens probeer om ’n bydrae tot die waarheid te maak.
“Terwyl ek hier was, het hulle my drie of vier keer na die kantoor ontbied, waar die Skerpioene met my wou praat. Hulle wou weet: ‘Hoe kan ons dié of daai ou se lyk opspoor?’
“Dan het ek die veiligheidslede gebel en hulle mooi gevra: ‘Sê net vir my: Waar kan gesoek word?’
“Hier en daar het ’n ou vir my gesê en dis hoe ons daai lyke opgespoor het.”
‘Ek soek nie wraak nie’
Die afgelope maand of twee was De Kock weer in die nuus nadat pres. Jacob Zuma hom einde 2009 in die tronk besoek het. Volgens berigte het hulle waarskynlik oor moontlike presidensiële kwytskelding gepraat.
Die konstitusionele hof het egter sowat twee weke gelede bevind die president moet slagoffers en naasbestaandes raadpleeg alvorens hy apartheidsmisdadigers kwytskeld. Slaan dit die deur heeltemal in De Kock se gesig toe?
“Die uitspraak raak my glad nie,” sê De Kock beslis. “ Beeld het sommer geskryf ek kan my kwytskelding nou op my maag skryf. Iemand van die DA het egter nou die dag op die radio gesê die uitspraak is net van toepassing op die sogenaamde Mbeki-120.”
Sommige van sy ou makkers in die veiligheidsmag is glo bekommerd oor die dag dat hy by die tronkdeure uitstap – sê nou Eugene het ’n appeltjie of twee met hulle te skil?
“Ek soek nie wraak nie. Ek gaan niemand fisiek of persoonlik aanval nie, maar as iemand my ’n reguit vraag vra, gaan hy ’n reguit antwoord kry. Ek het niks om weg te steek nie.
“Ek glo elke ou het drie lewens: Jou werklewe, jou private lewe en ’n geheime lewe. Ek weet ’n klomp dinge, maar ek het geen behoefte om dinge openbaar te maak wat daai ouens se gesinne kan benadeel nie.”
’n ‘Wesenlike gevaar’ vir sy gesin
Sal hy met sy gesin kan herenig?
“Nee wat, gesinne val dan selfs uitmekaar as die mense bymekaar is. Maar ek wil graag my twee seuns sien. Ek het hulle laas gesien toe hulle drie en sewe jaar oud was. Ek weet glad nie hoe hulle voel oor als wat gebeur het nie.”
Hy meen daar is “’n wesenlike gevaar” vir sy gesin in Suid-Afrika.
“Dalk nie onder die swart mense nie – ek ken nie die Afrika-kultuur nie – maar deur ouens saam met wie ek gewerk het. Ek kan jou ’n paar siek dinge vertel.”
Soos Ivor Human. In Zoeloeland is ’n vrou so wreed verkrag dat hulle haar een skoen eers drie maande later onder die voertuig se sitplek gekry het.
“Human is aangekla van die verkragting, maar daar het niks van die saak gekom nie.”
En dan is daar die aardsverklikker Dirk Coetzee se eie seun…
Ná Coetzee se Vlakplaas-onthullings het hy landuit gevlug en is sy huis deur De Kock-hulle gemonitor.
Een aand was Riaan Bellingham verantwoordelik vir die meeluistery.
“Die volgende oggend kom Riaan terug met nét so ’n dik mond. Toe wil hy Dirk se seun op sy pad skool toe gaan voorlê en doodmaak – oor die lelike manier waarop hy kwansuis met sy ma praat.
“Toe vat ek vir Riaan onder in die kantien vas en ek sê vir hom: ‘As daar iets met daai kind gebeur, sal ons jou in jou moer in stuur.’”
Wat van die bevelvoerders?
Hoeveel het ’n ou soos Adriaan Vlok regtig geweet?
De Kock is weer gereed met ’n voorbeeld.
“’n Week nadat ons Khotso-huis opgeblaas het, is almal wat by die operasie betrokke was, na Vlakplaas genooi vir ’n geselligheid waar Adriaan Vlok almal gelukgewens het. Genl. Gerrit Erasmus, wat in beheer was by John Vorster-plein, was ook daar.
“Dis eintlik jammer ek het die stukke videoband vernietig van die party wat ons daai aand gehou het.
“In daai stadium het hulle reeds vir Shirley Gunn opgetel met haar baba. Die idee was om al die skuld op haar te pak, want haar politiek was links. Sy is toegesluit in terme van Art. 29. Genl. Krappies Engelbrecht het nog die dossier gedra.
“Maar daai aand op Vlakplaas het ek vir Vlok gesê: ‘Julle het klaar hierdie vrou se baba by haar weggevat, julle gaan haar nie verander nie. Laat haar vry.
“Vlok het vir my gesê: ‘Laat sy vir haar kry…’”
Die wêreld daar buite en werk op ’n wildsplaas
Veronderstel die droom van vrylating word waar. Wat gaan hy doen as hy uitkom?
“Ek sal eers ’n maand of twee moet afvat om tot verhaal te kom. Ek het geen idee oor hoe die wêreld daar buite lyk nie – ek kan nie eens ’n selfoon antwoord nie.
“Ek het ’n werkaanbod uit Springs. ’n Klomp oud-veiligheidslede wat hulp nodig het met die veiligheid by hul ondernemings.
“Daar is ook ’n ou in Pietersburg met twee wildplase. Hy het iemand nodig om ’n ogie te hou.”
Hy sal enigiets oorweeg – met één voorwaarde: Hy wil nie genadebrood eet nie.
“Ek werk vir wat ek kry, anders wil ek dit nie hê nie. Ek besef dat ek nie op ’n goeie ouderdom is vir werk soek nie, maar ek gaan nie lê nie.”
‘Ek’s g’n rassis nie’
Voorsien hy probleme om in die “nuwe Suid-Afrika” aan te pas?
“Nee, glad nie. Ek was een van die min polisiemanne – dalk die enigste een – wat nie ’n rassis was nie.
“In Namibië het ek op plekke geloop waar daar omtrent nog nooit ’n wit mens was nie. Dan is ek die enigste wit ou tussen 60 of 80 swart soldate wat nog nie behoorlik opgelei is nie.
“Daai ou het my nie gevolg omdat hy vir my bang was of omdat ek hom gedreig het nie. Hy het my gevolg omdat hy geweet het ek sal hom nooit alleen los of aan sy eie lot oorlaat nie.”
Sy ambisie om joernalistiek te studeer het herleef. Hy het onlangs sy eerste werkopdrag ingestuur. 86% gekry. En die uitgewers lê op sy nek om ’n boek te skryf.
Jacob Zuma was “self ’n kryger”.
Al waarna De Kock uitsien is dat sy kwytskeldingsaansoek voor die einde van die jaar afgehandel sal wees. Kry hy nie kwytskelding nie, kom hy oor vier jaar in aanmerking vir parool.
“Ek dink Jacob Zuma het meer begrip vir my posisie omdat hy self ’n kryger was. Miskien moes die WVK eerder deur medestryders van albei kante van die draad behartig gewees het.
“Ek is nie spyt daaroor dat ek met die families gepraat het nie – die meeste het agterna na my toe teruggekom en gesê: ‘Baie dankie.’
“Maar die WVK was ’n eensydige proses van voor tot die einde.”
Sestien jaar gelede, toe die wolk van arrestasie oor hom gehang het, het hy sy vrou en kinders oorsee gestuur, maar nie self gevlug nie.
“Ek het geweet ek gaan lank sit. Maar ek het nie verwag ek gaan alleen sit nie.”
Ons tyd is op.
Terwyl ons vir die uitgang mik, sê een van die swart gevangenes opgeruimd: “Ek het vir jare lank saam met daai ou gebly.”
Op die bussie terug na die hoofingang dink ek aan die storie wat ’n oud-veiligheidsman my vertel het.
’n Jaar of wat gelede, in die Kersvakansie, was hy in sy Kaapse strandhuis toe die telefoon lui.
Dit was Eugene, wat wou hoor hoe dit met hom gaan.
“En net daar is my hele Kersfees in sy moer.”
Wat De Kock sê oor:
* Chris Louw – “Ek was verskriklik teleurgesteld oor sy dood. Hy was een van daai ouens wat van die een ekstreem na die ander gegaan het: Eers ’n Dakar-ganger, later ontnugter deur die nuwe Suid-Afrika. Ek het sy skryfwerk gereeld gelees en kon met baie daarvan identifiseer.”
* FW de Klerk – “Hy het baie foute gemaak, maar ek dink nog steeds hy het 20 jaar gelede die regte ding gedoen. Ons kon onmoontlik nie die oorlog volhou nie. Maar ons moes nie met die land gaan handel dryf het nie.
* Constand Viljoen – “Ek het nooit wapens aan hom gaan smous vir ’n militêre aksie nie. Voor die gepoogde inval in Bophuthatswana het hý na mý huis toe gekom om te probeer wapens kry.”
* Rapport – “Daar kan nie ’n groter gifpen-aanval op my geloods word as wat Rapport reeds gedoen het nie. As ek kyk na die snert wat Rapport geskryf het, is ek nie heeltemal seker wat om te glo nie.”
...en wat húlle sê:
* Daar is geen rede om bekommerd te wees (indien pres. Jacob Zuma vir De Kock kwytskeld nie).
– Willie Nortjé, oudlid van Vlakplaas
* As een ou (kwytskelding kry), dan sal almal moet kry: daai ou (Schabir) Shaik, die IVP-ouens wat so moan , die AWB-ouens, die regses, die linkses, Clive Derby-Lewis, Janusz Walus, Ferdie Barnard?…”
– Dirk Coetzee, oud-Vlakplaas-bevelvoerder
* De Kock was die slagoffer van mnr. FW De Klerk en die NP se desperate poging om hul eie beeld te beskerm.
– Genl. Johan van der Merwe, oud-veiligheidshoof.