Hulle wás kamermaats, maar hoerery is ‘twak’
2010-06-26 23:02
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
JACQUES PAUW IN JOHANNESBURG
Toe ’n spesiale taakmag van die polisie op ’n wintersaand in Augustus 2007 op ’n gasteplaas buite Klerksdorp toeslaan, het hulle gehoop om ’n onwettige vuurwapen in die besit van die Suidlanders-leier mnr. Gustav Müller te vind.
Müller het destyds in die Bianric Farm Inn – ’n paar kilometer buite Klerksdorp op die Ventersdorp-pad – gebly nadat sy vervoeronderneming bankrot gespeel het.
Mnr. Henk du Preez, ’n Suidlander en vertroueling van Müller, het ook op die plaas gewoon.
Die gastehuis het behoort aan me. Doreen Stassen, ’n gewese onderburgemeester van Klerksdorp en vurige Suidlanders-ondersteuner. Dié organisasie het vergaderings op die plaas gehou.
“Ek het gehoor daar was ’n vreeslike hoerery op die plaas,” sê mnr. Danie Odendaal.
“Dit was ’n nes van Suidlanders en daar het allerhande ongure dinge gebeur.”
’n Senior misdaadintelligensie-beampte, wat ten nouste betrokke is by ondersoeke na regse aktiwiteite, was een van die leiers van die polisiegroep daardie nag.
Hy sê toe die polisie die gasteplaas binnegaan, het hulle eers die gasteboek nagegaan om seker te maak in watter kamers Müller en Du Preez was.
Die groep is eers na Du Preez se kamer, maar dit was leeg, hoewel dit duidelik was dat hy daar gebly het. Die kamer het ’n dubbel- en ’n enkelbed gehad, maar dit was nog opgemaak.
Die groep is daarna na Müller se kamer waar hulle die deur oopgesluit, ingestorm en die lig aangesit het.
Daar was drie mense in die bed.
Hulle was al drie kaal.
Een van hulle was Gustav Müller.
Die ander twee was Henk du Preez en ’n vrou genaamd Suné Burger, wat ook vir die Suidlanders gewerk het.
Al drie het opgespring en probeer toehou, sê die polisieman. Burger het flou neergeval.
’n Mediese ordonnans was deel van die polisiespan en dié moes haar lawe en bybring.
Die polisie het ’n onwettige pistool gevind waarvoor Le Roux aanvanklik verantwoordelikheid aanvaar het.
Hy en Burger is aangekla en op borgtog van onderskeidelik R20 000 en R10 000 vrygelaat.
Odendaal het Rapport eerste van die voorval in die Bianric Inn vertel en daarna het ons bevestiging daarvan by die misdaadintelligensie-beampte gekry.
Rapport het dié bewerings aan Müller gestel.
“Dis twak!” het hy uitgeroep. “Dis nou ’n ideale naamskendingsaak hierdie, hoor!”
Müller het egter erken dat hy, Du Preez en Burger die nag van die inhegtenisneming in dieselfde kamer in die Bianric Inn geslaap het.
“Die tannie het gesê sy het gaste wat dalk daai aand gaan kom en sy het gevra of ons sal omgee om ’n vertrek te deel,” sê Muller.
“Was julle kaal?” wou Rapport weet.
“Dis nonsens! Ek het nóú nog die slaapbroek (wat hy daardie aand gedra het).”
Volgens Müller was daar ’n klop aan die deur en toe hy wakker word en oopmaak, was dit die polisie wat wou inkom.
“Toe sê ek ek wil net gou aantrek. Ek wil tog nie in my lang slaapbroek daar rondstaan terwyl die polisie deursoek nie.
“Toe het ek my in die badkamer gaan toemaak, ’n denim aangetrek, ’n netjiese hemp aangetrek en toe buite gaan staan en gesels met die polisie.”
Müller sê hy het “ook gehoor” dat Burger flou neergeval het.
“Waar in my lewe sal ek waar ’n vreemde vrou betrokke is… al ken ek haar, dis nie my vrou nie! Nou gaan jy my lekker probeer swartsmeer, nè?”
Stassen het die bewerings as ’n “skokkende skinderstorie” beskryf. Sy sê daar was vier enkelbeddens in Müller se kamer.
“Hulle het elkeen in ’n enkelbed geslaap en hulle was in sweetpakke geklee – insluitende Gustav.”
Du Preez en Burger kon nie vir kommentaar opgespoor word nie.