Hy was reg om te sterf toe haai hom byt
2012-07-07 23:31
“Ek ken die Here en as dit toe my tyd was om te gaan, sou ek gaan.”
So het Jacques Mostert (29), wat Vrydag naby Stilbaai deur ’n grootwithaai gebyt is, gister uit die Bayview-hospitaal in Mosselbaai gesê.
Mostert, ’n geoktrooieerde rekenmeester van Centurion, het erge bytwonde aan sy linkerbeen opgedoen toe die haai van minstens 4 m lank hom toegetakel het.
Hy is in ’n stabiele toestand nadat dokters Vrydagaand in ’n noodoperasie senuwees in sy beseerde bobeen en knieg moes heg. Hy sal nog ’n paar dae in die hospitaal moet deurbring.
Mostert sê hy was alleen op sy branderplank in die see by Sandstrand op Jongensfontein, sowat 20 km buite Stilbaai, toe die haai hom aangeval het.
Hy het die haai se swart dorsale vin in die donker water op hom sien afpyl, waarna die kragtige kake van die haai deur sy branderplank gebyt en die tande in sy linkerbobeen en -knie vasgeslaan het.
Die haai het hom gelos, afgeduik en weer om hom kom sirkel.
Mostert sê De Wet Burger, wat op die strand gesit het, het dit gesien en hom in die branders te hulp gesnel. Mostert sê Burger “was die hero”.
“Hy het sy baadjie as toerniket om my been gesit en só my lewe gered.”
’n Plaaslike geneesheer, Pieter Joubert, asook die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gehelp.
Volgens Rico Menezies, bestuurder van die NSRI op Stilbaai, was die laaste haaibyt-voorval daar op 7 Julie 2009 toe ’n branderplankryer, Paul Buckley (37) van Claremont, op Jongensbaai aan sy been gebyt is.
In April is David Lillienfeld (20) van Kampsbaai dood toe ’n haai hom naby Gordonsbaai op sy branderplank aangeval en gebyt het.