Indië boos oor Top Gear se ‘toilethumor’
2012-01-14 23:46
Jeremy Clarkson se grappie waarin hy in Indië ’n toilet aan ’n motor vasgemaak het, het dié land se inwoners so kwaad dat hulle nou op regeringsvlak teen Top Gear protes aanteken.
Net verlede maand het Clarkson gespot dat stakende Britse werkers geskiet moet word. Sy grappies oor Mexiko het hom ook al by daardie land in die pekel laat beland.
’n Episode van dié gewilde BBC-motorprogram is verlede maand in Indië opgeneem waar Clarkson in ’n Jaguar met ’n toilet aan die kattebak gery het.
Clarkson het gesê “die toilet is perfek vir Indië omdat almal wat hierheen kom ’n omgekrapte maag kry”.
Volgens Indiese diplomate bied die program ’n “walglike” blik op hul land.
Mnr. Raja Sekhar van die Indiese hoë kommissariaat in Londen sê Indiese amptenare het die BBC-span gehelp om die program te maak, maar dat hulle oor die inhoud daarvan mislei is. In ’n brief aan die BBC maak hy ten sterkste beswaar oor die episode.
“Ons het gedoen wat ons kon om hulle te help, maar hulle het afbreek gedoen aan ons mense en kultuur,” sê Sekhar.
“Die BBC word sekerlik meer in Indië as in Engeland bewonder, daarom is ons so diep teleurgesteld.”
’n Woordvoerder van die BBC het bevestig dat hulle die brief ontvang het en dat hulle daarop sal reageer.
Bron: www.bbc.co.uk