Indiese handleiding oor seks in Afrikaans
2011-04-09 21:18
Die laaste Voortrekker-borstrok gaan waai wanneer die eerste Afrikaanse vertaling van die Kamasoetra, ’n antieke Indiese sekshandleiding, binnekort verskyn.
’n Span van vier – ’n skrywer en drie kunstenaars – is reeds ywerig aan die vertaal aan dié ou Hindoe-geskrif wat raad oor slaapkamersake en spiritualiteit kombineer. Hulle hoop die Afrikamasutra (soos die projek amptelik bekend staan) sal teen die middel van die jaar op boekrakke staan.
Die Kamasoetra is 18 eeue gelede in Indië saamgestel en reeds in die meeste groot wêreldtale vertaal.
Ilse Groenewald vertaal die teks uit ’n Engelse weergawe. En die kunstenaars Hardus Koekemoer, Diek Grobler en Marna Schoeman maak ’n rits sketse om – nes in die antieke weergawes – die verskillende vrytegnieke te illustreer wat in die teks beskryf word.
“Die idee vir ’n Afrikamasutra is gebore uit ’n gaping wat ek in die Afrikanerpsige of verwysingsraamwerk gemerk het,” skryf Groenewald op die projek se webwerf, afrikamasutra.net. “Jy is óf ’n getroude koek óf ’n ongetroude tert en geheel en al goddeloos.
“Ek wil ’n platform skep waar ons kan praat oor seksualiteit en spiritualiteit sonder om veroordeel te word.”
Baie van die kunswerke wat vir die Afrikamasutra gedoen word, het spesifieke Suid-Afrikaanse elemente (adonisse in two tone-hemde; ’n nimf wat met ’n luiperd speel) om dit meer plaaslik te maak.
Groenewald het die afgelope week aan Rapport gesê sy het die Kamasoetra leer ken uit die werk van geestelike skrywers soos Osho en Deepak Chopra. “Ek dink toe hoekom vertaal ek dit nie in Afrikaans en kry prente wat by ons raamwerk pas nie.”
Sy pas ook die teks hier en daar aan. “Met die eerste skryf daarvan vertaal ek nog woord vir woord, maar uiteindelik wil ons dit ’n meer Suid-Afrikaanse kleur gee.
“In die oorspronklike teks is dele oor die Indiese kastestelsel en tekste wat sê jy mag nie by ’n vrou slaap wat melaats is nie. Van die quirks gaan ons inlos, maar dit is nie oral toepaslik nie.”
Die Afrikakamasutra word deur Griffel-media uitgegee.