Infowet: Cosatu sê hy sal DA nie help
2012-12-01 23:59
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Cosatu sal nie aan sy “ontplooide lede in die parlement” sê om téén die omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting te stem soos die DA eergister gevra het nie.
So het Cosatu se parlementêre beampte aan Rapport gesê nadat Lindiwe Mazibuko, parlementêre DA-leier, op ’n mediakonferensie gesê het Cosatu moet daad by woord sit en “LP’s verbonde aan Cosatu beveel om ons (die opposisie) te help om uiters belangrike veranderings aan te bring”.
Die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) het Donderdag die wetsontwerp goedgekeur.
Die Nasionale Vergadering (NV) sal volgende jaar daaroor stem.
’n Verweer in openbare belang vir fluitjieblasers en ondersoekende joernaliste is ná twee en ’n half jaar se baklei steeds nie in die wetsontwerp ingesluit nie. Mazibuko sê Cosatu se skynheiligheid moet blootgelê word omdat dié vakverbond die ANC gehoorsaam wanneer oor die wetgewing gestem word, maar in die openbaar teenkanting daaroor uitspreek.
“Daar is nie so iets soos ’n Cosatu-ontplooide in die parlement nie,” het Prakashnee Govender, Cosatu se parlementêre beampte, aan Rapport gesê.
“Hoewel LP’s Cosatu-lede is, verteenwoordig hulle ANC-takke in die parlement.”
Rapport verneem Zwelinzima Vavi, Cosatu-hoofsekretaris, het verlede week agter geslote deure met ANC-lede in die NRP vergader.
Kort daarna het die ANC sy verbete standpunt laat vaar dat dié wetgewing die Wet oor die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) troef.
Mazibuko sê dit sal beter wees om die wetsontwerp in die NV af te keur, want dit kan eers na die konstitusionele hof verwys word nadat dit in die parlement afgehandel is.