Is bruin nie swart genoeg?
2010-01-30 23:34
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Jacob Rooi en Anastasia de Vries
Die nuwe storm in Suid-Afrikaanse krieket het weer die kollig laat val op die gebrek aan sportontwikkeling in etnies swart gebiede. Én ’n newe-vraag opgeroep: Hoe swart is bruin nou eintlik?
Dié verwikkeling volg op die skokbedanking van die Proteas se hoofafrigter, Mickey Arthur.
Arthur se kop het gerol omdat die Proteas in die afgelope reeks teen Engeland in drie van die vier toetse sonder ’n “swart speler van Afrika-afkoms” gespeel het, is aanvanklik berig.
Beteken dit, was die vraag, dat bruin spelers soos JP Duminy en Ashwell Prince nie aan die kleurvereiste van Krieket Suid-Afrika (KSA) voldoen nie?
Sommige bruin kommentators meen dié kwessie moet bespreek word, want hiermee word opnuut “subgroepe van agtergeblewendheid” en “?’n nuwe klas slagoffer” geskep.
Dr. Danny Titus, die ATKV se uitvoerende hoof: kultuur, meen mense móét hul stemme hieroor dik maak, “veral omdat die krieketbase nou laat blyk dat bruin mense nie in hul denke oor African-wees toegelaat word nie. Dit raak ons en dit gaan ons kinders raak.”
Mnr. Conrad Sidego, oudkoerantman, sê die politieke skakeringe van swart, “soos gedefinieer deur die krieketbase, laat dit klink of die bruin mens nou afskuif op die politieke kleurkaart.
“Mense is glad nie gelukkig met hierdie onderskeid nie, maar weens politieke korrektheid en allerlei ander oorwegings maak ons maar net klipvuis in die broeksak. Ons word kwaad, maar praat nie maklik uit hieroor nie.
“Ons soek almal ’n samelewing waar dit werklik nie meer nodig is dat ons hare kloof oor sake wat ons reeds verdeelde nasie nog verder sal vervreem nie. Ons moet die ding op sy naam noem en sê dat swart en wit op gelyke vlak moet kan meeding. Dat die agtergeblewenes spesiale aandag moet kry om ontwikkel te word.”
Maar, sê hy, om subgroepe van agtergeblewendheid te skep klink egter nie reg nie. “Ons is nou besig om ’n nuwe klas slagoffer te skep. My mening is dat die krieketbase in hierdie geval ’n baie lompe politieke bal geboul het. Die idee moet vir ’n ses gemoker word.”
Terselfdertyd, sê mnr. Robert Pearce, hoofbibliotekaris by die Nelson Mandela- Metropolitaanse Universiteit, het die tyd aangebreek dat mense baie duidelik moet wees oor wat Suid-Afrikaners onder “swart”, “African” en “black African” moet verstaan. Pearce, ook ’n skrywer en kommentator oor kwessies soos taal en identiteit, sê: “?’n Mens moet onthou dat baie bruin mense hulself as swart beskou, ‘black African’. Veral die sportbase sal eerliker moet wees met hul definisies van ras, sodat veral bruin spelers weet ‘black African’ sluit hulle nie in nie. En wie, volgens hul definisie, is ‘African’? Selfs die ‘setlaars’ se kinders is African. Nee, hulle sal ons maar moet definieer of herdefinieer sodat ons weet wie hulle meen ons is.”
Hy verwys na dr. Allan Boesak, wat eens gesê het die ou Nasionale Party het hom ’n “Kleurling” gemaak, in die struggle was hy swart en nou maak die ANC hom weer ’n Kleurling.
“Dis pynlik, maar dit lyk of ons nêrens met nie-rassigheid kom nie. Nou is die fokus weer op ras en kleur onder die dekmantel van transformasie. Transformasie verg meer as die ‘regte’ kleur- of rassesamestelling van ’n span.”
- Rapport