Jesus sal voetjie gesond maak, sê kind ná ongeluk in winkelsentrum
2012-01-28 23:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Jacques Steenkamp in Johannesburg en Carien Kruger in Pretoria
Sy besef sy het drie tone verloor, maar dit gaan haar nie keer om weer te loop en eendag hokkie te speel nie.
Mishke Roux (6) se voet het verlede Sondag in die Galleria-winkelsentrum in Amanzimtoti in ’n roltrap verstrengel geraak.
Sy was saam met haar ma toe hulle met die roltrap afbeweeg en haar linkervoet tussen die kant van die roltrap en die glas vasgesit het.
’n Omstander het die noodknoppie gedruk.
Mishke is na die Kingsway-hospitaal geneem waar sy sedertdien twee operasies ondergaan het om die oorskot van die drie afgeskeurde tone te verwyder. Sy word vandeesweek weer geopereer.
Me. Talita Delport, Mishke se ouma, sê op Facebook dit gaan elke dag beter met haar en hulle bid net daar kom nie infeksie in die wond nie.
“Mishke weet nou van haar toontjies, maar sê sy kan nog loop en swem en gaan nog hokkie speel ook. Sy is ’n bron van inspirasie.
“Sy sê Jesus sal haar voetjie gesond maak.”
Dit blyk die winkelsentrum se bestuur voer aan Mishke was kaalvoet op die roltrap.
Me. Lualle Bezuidenhout van Amanzimtoti sê egter op Facebook sy het die roltrap besoek en sy meen dis gevaarlik.
“As jy nog nie Galleria besoek het om self daai roltrap te bekyk nie, moet jy stilbly.
“Ek het soontoe gegaan en laat ek jou vertel, daai roltrap het tande wat ontbreek, wat beteken dit is ’n gevaar,” skryf Bezuidenhout op Mishke se Facebook-blad.
Sy kap ook na diegene wat die vinger na Mishke se ma wys.
Sy sê niemand moet die ma of kind verantwoordelik hou omdat sy glo kaalvoet geloop het nie, want hulle woon langs die see en almal daar loop sonder skoene.
Me. Swastika Juggernath, Galleria-woordvoerder, het gister gesê die sentrumbestuur het besluit om geen verdere kommentaar oor die voorval te lewer nie.
Mense is meestal “blasé” oor die gevare van die verkeerde gebruik van roltrappe, waarsku dr. Theo Kleinhans, sekretaris van die Hyserinspekteursvereniging van Suid-Afrika (Liasa).
Volgens Kleinhans het die departement van arbeid laat in 2010 gewysigde regulasies oor hysers en roltrappe afgekondig.
Die regulasies is volgens hom baie goed en die voorgeskrewe Suid-Afrikaanse standaarde vir veiligheid is dieselfde as Europa s’n. Hy het egter sy bedenkinge oor die toepassing en monitering daarvan.
Die vereniging raam daar is sowat 8?000 roltrappe in die land en statistieke oor ongelukke hierop is nie beskikbaar nie.
Onder die vereistes vir ’n veilige roltrap is dat die gapings tussen die kant van die trap en die balustrade baie klein moet wees. Ook moet daar waarskuwingsborde aangebring wees wat onder meer maan teen kaal voete.