Jongmense sukkel sonder Alexkor-trustgeld
2012-01-21 23:13
Die trustees van die Alexkor-ontwikkelingstigting (AOS) verskyn oormôre vir die vierde keer voor die parlement se portefeuljekomitee oor minerale.
Hulle moet verduidelik waar R18 miljoen trustgeld is en hoekom slegs die finansiële state vir 1998 tot 2005 ingedien is.
Talle jongmense is sedert 1993 deur die Alexkor-ontwikkelingstigting (AOS) met beurse en lenings gehelp.
Nou gebeur dit nie meer nie en talle afgestudeerde matrikulante se drome van verdere studie is daarmee heen.
Die Alexkor-maatskappy het jaarliks ’n persentasie van sy winste ná belasting aan die stigting betaal.
Kerke, kinderhuise, skole, tehuise, sportliggame, kultuur- en gemeenskapsorganisasies oor die hele Namakwaland is geldelik gehelp.
Die stigting het nou met Alexkor gebots oor die uitbetaling van trustfondse.
Die oë het al in 2004 gerek toe bates en geld in die Namakwaland-ontwikkelingsagentskap (Namda) opgeneem is.
Die gemeenskappe het by die parlement gekla oor die stigting en ’n feitesending is daarheen onderneem.
Van die trustees wat moet antwoorde gee, is mnr. Joshua Losper, huidige speaker van die Nama-Khoi-munisipaliteit op Springbok.
Joshua en ander trustees is die vorige kere kwaai geroskam oor hul houding jeens vrae oor die finansiële state.
Groot sakelenings is aan sake-ondernemings toegestaan – waarvan die grootste bedrag R200 000 in 2004 aan die MDDC Bpk. van Springbok.
Lenings is selfs aan van die trustees toegestaan.
Talle sakeondernemings wat lenings ontvang het, is nou “onopspoorbaar”.
Agterstallige lenings beloop derduisende rande.
Uitbetalings aan studielenings het in 2003 en 2004 onderskeidelik R743 139 en R786 592 beloop.
In 2004 het die verliese op R4,81 miljoen te staan gekom.
Me. Jolinde Pretorius, raadslid in die Richtersveld-munisipaliteit, sê daar is baie jongmense wat nie tans by die stigting baat vind nie.
“Dis hartseer. As die trust gedoen het waarvoor dit gestig is, was daar groter ekonomiese groei en minder sosiale euwels.
“Die versugting van Namakwaland is dat die portefeuljekomitee ’n forensiese ondersoek aanvra,” sê Pretorius. “Bates moet teruggegee word.”
Me. Melba Bowers, gemeenskapsleier op Okiep, sê jeugontwikkeling is hier met trustgeld begin, maar die stigting se hulp is nodig om dit volhoubaar te maak.
“Die hele Namakwaland hou die trustees se sêgoed voor die parlement met arendsoë dop.”
Mnr. Daniel Carolus, sentrumbestuurder by die advieskantoor op Nababeep, sê werkloosheid onder die jeug is baie hoog.
“Die trustgeld sou ons kon help.”
Mnr. Reginald Muzariri, voorsitter van Alexkor, het by navraag aan Rapport gesê hulle was nie by die administrasie van die trust betrokke nie, maar help die parlement met die navrae daaroor.