Kakebeen af in geveg ná rugby
2012-07-21 23:52
Die kakebeen van ’n rugbyspeler van die Hoërskool Zwartkop in Centurion is afgeslaan in ’n geveg wat gister ná ’n rugbywedstryd op Zwartkop se tuisveld uitgebreek het.
Jean Grobler, eerstespansenter en leerlingraadlid, is in die Unitas-hospitaal opgeneem en sou dalk nog gisteraand geopereer word, het Johnny Grobler, sy pa, gesê.
Grobler sê van wat hy kon sien het ’n volwassene op die veld gegaan en Jean van agter die hou toegedien wat sy kakebeen kon gebreek het.
Die geveg het uitgebreek nadat die Hoërskool Centurion Zwartkop met 31-15 gewen het.
’n Toeskouer, wat sê hy het geen belang by enige van die twee skole nie, het teenoor Rapport beweer Centurion se “speler nommer drie” het die geveg begin deur ’n speler van Zwartkop te slaan.
Jean het die geveg probeer stopsit, waarna ander spelers van Centurion hom glo gepak het.
Volgens die persoon, wat anoniem wou bly, het leerlinge en ouers van Centurion op die veld gegaan en ook deel geword van die geveg. Hy beweer afrigters en onderwysers van Centurion het nie probeer keer nie.
“Dit was baie lelik.”
Bertus Myburgh, voorsitter van die beheerliggaam van Zwartkop, het in ’n verklaring gesê die skool sal ’n video van die wedstryd en die geveg bestudeer.
Volgens hom was daar tydens die wedstryd voorvalle van ongeoorloofde spel en is “speler nommer drie van Centurion” deur die skeidsregter gewaarsku.
Ook hy beweer dié speler het die geveg begin deur een van Zwartkop se slotte ná die eindfluitjie met die vuis op die mond te slaan.
“Vuishoue deur spelers van albei skole is gewissel en toeskouers van Centurion het betrokke geraak. Zwartkop-toeskouers het ook op die veld gekom om die bakleiery te staak. Die Hoërskool Zwartkop keur hierdie optrede hoegenaamd nie goed nie.”
Die Hoërskool Centurion kon nie teen druktyd vir kommentaar bereik word nie.