Kan hy oorleef?
2010-08-31 14:45
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
George Matlala, Sabelo Ndlangisa en Paddy Harper
Pres. Jacob Zuma het drie weke om sy verhoudings met Cosatu en die ANC-jeugliga te herstel. So nie, kan hy hom in 'n opstand vasloop by aanstaande maand se byeenkoms van die nasionale algemene raad van die ANC.
Mnre. Julius Malema van die jeugliga en Zwelinzima Vavi van Cosatu het verlede week hul sterkste aanduidings tot nog toe gegee dat 'n moontlike tweede Zuma-ampstermyn in tamatiestraat is tensy hy sy twee eertydse meelopers terugwen.
Hy kan selfs die ANC-leierskap in 2012 kwyt wees as hy nie toenadering soek by die vakbonde en die jeug nie.
Hoewel die sitting van die nasionale algemene raad, wat deur ANC-taklede oorheers word, van 20 tot 24 September in Durban as barometer vir Zuma-steun sal dien, sal die president in dié allesbehalwe heerlike lente 'n paar groot besluite moet neem:
* Gaan hy die jeugliga se nasionaliseringsplanne vir die myne steun en dit prominensie gee in die algemene raad?
* Gaan hy mnr. Gwede Mantashe opoffer as sekretaris-generaal van die ANC ten gunste van mnr. Fikile Mbalula? Is hy lojaal aan Mantashe, gaan die jeugliga woedend wees. Kies hy Mbalula, is die SAKP kwaad. Hy moet kies.
* Gaan hy die koue oorlog teen Cosatu stopsit en minister Ebrahim Patel meer krag gee in die kabinet?
* Kan hy die staatsdiensstaking oplos, dalk met 'n beter loonaanbod?
* Gaan hy die mediatribunaal steun te midde van groeiende internasionale druk en terwyl Cosatu meen media-regulering is nie 'n prioriteit nie en kan nie gebruik word om korrupte politici te beskerm nie?
Aan die einde van verlede week se ANC-jeugligaberaad in Midrand het Malema benadruk dat geen ANC-leier 'n tweede termyn gewaarborg is nie. Dít is 'n aanduiding dat die jeugliga nie volkome lojaal is aan Zuma nie. Die jeug is veral kwaad omdat Zuma stil is oor hul nasionaliseringsplanne vir myne.
"In Polokwane het ons vir Zuma gevra om na ons om te sien. Ons moet bepaal of hy dit gedoen het," aldus Malema.
Zuma, wat tans die land deurkruis, is uit vakbondgeledere onder skoot oor onlangse bemagtigingstransaksies wat sy familie en meelopers baie ryk gemaak het.
Vavi het gedreig dat Cosatu 'n hofsaak aanhangig sal maak om die ArcelorMittal-transaksie van R9 miljard, waarin Zuma se seun Duduzane nogmaals bemagtig is, ongeldig te laat verklaar.
Ook Malema het uitgevaar teen die "verryking van families" terwyl Vavi gewaarsku het teen 'n "roofdierstaat".
Voorts is Cosatu ontevrede oor die min inspraak oor beleid wat vakbonde in die regerende alliansie het, net soos dit die geval met oudpres. Thabo Mbeki was.
Cosatu gaan met sy lede koukus voor die nasionale algemene raad se sitting, sodat werkersklas-kwessies voorrang kan geniet, aldus Vavi.
Die presidensiële woordvoerder, mnr. Zizi Kodwa, het gesê Zuma sal op 'n gepaste tyd reageer.