Klimaat rede vir velkleur, sê navorser
2010-03-06 23:05
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Dekades gelede was die Universiteit van Stellenbosch (US) ’n bakermat vir die soort denke wat mense volgens velkleur in groepe opgedeel het.
En daarom is dit vir haar so opwindend dat sy in die komende week ’n eredoktorsgraad juis by dié universiteit gaan ontvang, sê prof. Nina Jablonski, een van die wêreld se invloedrykste navorsers oor velkleur.
Jablonski se navorsing oor die afgelope 20 jaar het ’n kernrol gespeel in die wetenskap se poging om te verstaan hoekom mense verskillende velkleure het.
En in die komende week is dit uit dié kennis dat sy gaan put wanneer sy ’n intreerede op die gradeplegtigheid van die US gaan lewer, asook ’n eredoktorsgraad by dié instelling gaan ontvang.
Jablonski is een van die eerste wetenskaplikes wat velkleur gekoppel het aan die menslike liggaam se vervaardiging van melanien, ’n natuurlike sonskerm wat teen ultravioletstrale beskerm.
“Dit het my nog altyd gefassineer hoekom mense verskillende kleure het,” het sy dié week uit Washington oor haar navorsing gesê.
“As jy mooi kyk, sien jy donkerder mense woon gewoonlik nader aan die ewenaar en ligter mense verder daarvandaan. So dit lyk duidelik dat velkleur ’n aanpassing by die omgewing moet wees.”
Jablonski het veral Nasa se data oor die verspreiding van ultravioletstrale oor die aardoppervlak gebruik om haar teorie te formuleer dat velkleur deur evolusie by die oorvloed van of gebrek aan ultra-violetstrale in die omgewing aanpas.
“Donker velle, wat die kleur van al ons homo sapiens-voorvaders was, het in Afrika naby die ewenaar ontwikkel omdat dit ons deeglik teen ultravioletbestraling beskerm. Maar sodra party mense
80 000 jaar gelede die streke rondom die ewenaar verlaat het, het die bedreiging van ultravioletstrale veel minder geword en het hulle nie meer soveel van dié natuurlike sonskerm nodig gehad nie.”
Ver van die ewenaar af het donker velle selfs ’n probleem begin word omdat dit veroorsaak het dat menslike liggame te min ultravioletbestraling kry en gevolglik sukkel om vitamien D te vervaardig. “So, mense het gedepigmenteer toe hulle verder van die ewenaar weggetrek het en ligter geword.
“Dit is veral interessant dat die mensdom deur twee fases van depigmentasie – in sowel Wes-Europa as Asië – gegaan het. Dit wys dat dié evolusie van velkleur ’n produk van omstandighede eerder as iets noodwendigs is.”
En toe mense in Indië en die Amerikas weer nader aan die ewenaar getrek het, sê Jablonski, het hulle op hul beurt weer donkerder geraak.
Jablonski se bevindings het volgens haar belangrike politieke implikasies. Velkleur is bloot ’n aanpassing by klimaat, iets wat gereeld in bevolkingsgroepe ligter of donkerder geraak het namate hulle verder van of nader aan die ewenaar gemigreer het. “Velkleur is ’n baie swak maatstaf om mense in groepe in te deel.”
En dit is ook om gesondheidsredes belangrik, aangesien baie mense in die moderne era van versnelde migrasie in omgewings woon wat verskil van dié waarby hul voorvaders se velle deur stadige evolusie aangepas het. “Ligte mense in sonnige omgewings kry maklik velkanker, terwyl donker mense in Noord-Amerika of Wes-Europa ’n vitamien D-tekort ontwikkel.”