‘Kloof tussen Afrikaanses’
2012-09-01 23:54
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Organisasies wat bruin en wit sprekers van Afrikaans verteenwoordig moet met mekaar praat om die kloof te oorbrug, meen dr. Danie Langner, voorsitter van die FAK.
Dit kom ná ’n woorde-oorlog oor die FAK se wit beraad verlede maand in Pretoria oor die toekoms van Afrikaans.
Danie van Wyk, uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), het die FAK van “laer-trek” beskuldig en gesê dit neig na ’n “Orania-sentiment” omdat geen bruin belangegroepe na die taalberaad genooi is nie.
Langner sê veelrassige organisasies is wel genooi.
Van Wyk het die afgelope week op LitNet geskryf ’n beraad oor die toekoms van Afrikaans wat nie alle Afrikaanssprekendes insluit nie, skep vervreemding en is skadelik vir Afrikaans.
“Daar is miljoene bruin en swart Afrikaans-eerstetaalsprekers en Afrikaans word daagliks in bruin en swart skole in die Wes-Kaap en elders deur bruin en swart onderwysers onderrig. Sondae word daar in Afrikaans in bruin en swart kerke in die townships gepreek.
“Dit is sulke mense wat nie geignoreer moet word as daar oor Afrikaans gepraat word nie.”
Volgens Van Wyk is dit duidelik Afrikaans word in die noorde van Suid-Afrika anders ervaar as in die suide, maar “daar mag nie teruggekeer word na ’n situasie waar die taal onder beleg is nie. Afrikaans moet vrygemaak word van stigmatisering, etnifisering en die politiek.”
Langner sê Van Wyk se reaksie dui op “’n kloof” tussen verskillende Afrikaanse gemeenskappe en tussen noordelike en suidelike taalperspektiewe. Daar is wel ná die FAK-beraad meer begrip vir die Kaaps-Afrikaanse gemeenskap se taaluitdagings.
Op LitNet het Michael le Cordeur, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, ná die FAK-beraad gesê die skeiding tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes is lewensgroot en hy wonder of die twee wêrelde ooit bymekaar gaan uitkom.
Hy sê Adam Small se Hertzog-prys word op 12 September gevier.
“Die oorlewing van Afrikaans hang nie af van wat op Stellenbosch gebeur nie, maar van die vergewensgesindheid van ’n Adam Small wat bereid is om ’n Hertzogprys dekades nadat hy dit verdien het, te aanvaar.”