Koppe rol, maar nie Angie s’n
2012-08-04 23:40
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Lizel Steenkamp, Llewellyn Prince en Carien Kruger
Die koppe gaan rol oor die handboekskandaal, maar dit gaan nie noodwendig Angie Motshekga s’n wees nie.
Ingeligtes meen die ergste wat die minister van basiese onderwys kan oorkom is dat pres. Jacob Zuma haar na ’n ander portefeulje skuif.
“Almal in die regerende alliansie voel koppe moet rol. Maar daar is simpatie vir Angie en dit hou nie net verband met Mangaung nie,” het ’n senior leier aan Rapport gesê.
Motshekga het as president van die ANC-vroueliga aansienlike invloed in die party om steun vir Zuma te werf om in Desember in Mangaung tot ANC-leier herkies te word. Sy het ook invloed in Gauteng, ’n provinsie wat hom daarvoor beywer om Zuma te ontsetel.
Die politieke ontleders Aubrey Matshiqi en prof. André Duvenhage van die Noordwes-Universiteit meen Zuma sal dus versigtig wees om Motshekga in die pad te steek. “Ek vermoed daar kan binnekort weens minister Nkosazana Dlamini-Zuma se skuif na die Afrika-Unie ’n kabinetskommeling volg waar Zuma kan besluit om Motshekga na ’n ander portefeulje oor te plaas,” het Duvenhage gesê.
’n Ingeligte wat by verlede naweek se ANC-lekgotla was, sê almal besef “die handboekskandaal maak die ANC seer, maar dis vir seker nie ’n uitgemaakte saak dat Angie afgedank gaan word nie”.
Daar is heelwat vrae oor die rol van Limpopo se provinsiale regeringsleiers in die sage en dié van Bobby Soobrayan, direkteur-generaal van basiese onderwys.
“Hoekom net vir Angie teiken en nie ook húlle nie?” het hy gevra.
Intussen staan die ANC-vroueliga, Raad van Onderwysministers en onderwysvakbonde bankvas agter Motshekga te midde van die ANC-jeugliga, die studente-organisasie Cosas en die burgerlike samelewing se eis dat Motshekga moet loop.
Sadou en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sê Cassel Mathale, Limpopo se premier, en sy LUR vir onderwys moet eerder pa staan vir die gemors – ’n eis wat Mathale se woordvoerder as “onregverdig” bestempel het.
Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, en Thobile Ntola, Sadou se president, meen die skuldiges “is in Limpopo” en dat die oplossing nie is om Motshekga af te dank nie.
Die SAKP steun dié mening en pak die skuld op die “diep gewortelde tenderstelsel”.
“Hoekom moet kontrakteurs handboeke publiseer en versprei? Hoekom kan die regering dit nie self doen nie?” het Malesela Maleka, SAKP-woordvoerder, gevra.
Intussen wag Zuma en die ANC op drie taakspanne om die skuldiges te identifiseer.
Volgens Keith Khoza, ANC-woordvoerder, het die regerende party nooit Motshekga se kop geëis nie. “Ons wag vir die uitslag voordat ons besluit wie skuldig is.”
Maar Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, meen dit sal op ’n simboliese vlak ’n “uitstekende gebaar” wees as Motshekga bedank of afgedank word.