Kopskoot oor hy te veel raas

2013-12-01 00:15

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

’n Afgetrede eiendomsagent met geldelike probleme wie se vrou hom gelos het, wou nog net één taak verrig voordat hy sy eie lewe neem: bloedig afreken met sy vorige buurman se raserige seun.

Met ’n .357 Magnum-rewolwer het Dave Ridgway (66) Dinsdag afgesit na die huis waar die gesin van Peter Robertson (19) woon – die pes wat glo opsetlik harde musiek gespeel het toe Ridgway tot vier maande gelede nog hul buurman was.

Sy selfmoordbrief was reeds geskryf.

By die Robertson-huis in Boegoebergstraat in Brackendowns, Alberton, het Ridgway vir Robertson in die kop geskiet en op twee van sy vriende losgebrand.

Robertson is gistermiddag dood nadat hy dae lank in ’n koma was. Gebroke vriende en familie sou môre saamkom om sy 20ste verjaardag te vier.

Ridgway het glo geruime tyd gekla oor die harde musiek wat Robertson glo in sy motor en in die huis speel.

By geleentheid het Ridgway ook Peter se pa, Peter Garson Robertson (68), tot ’n vuisgeveg uitgedaag. Robertson sr. is ’n gewese skoolhoof van die Parkhurst Primary School in Johannesburg.

Vier maande gelede het Ridgway na ’n gastehuis getrek nadat sy vrou van hom geskei het.

Daar was glo geldelike probleme ook.

Toe hy Dinsdag op sy wraaktog gaan, het Ridgway in die Robertsons se tuin gaan skuil totdat Peter en sy vriende teen 20:00 opgedaag het.

Annemarie Robertson (56) sê haar seun het ander klere kom aantrek. Toe hulle uitstap, het Ridgway die jong mans beveel om op die grond te gaan lê. “Hy het gevra waar Peter is,” sê Annemarie. “Toe het hy drie skote geskiet.”

Peter is in die linkerslaap getref en Calvyn Main in sy een been. Die derde koeël het Jonathan de Freitas gemis.

Ridgway het vergeefs na Robertson sr. gesoek en Peter se vriende toe laat gaan.

Die twee het Peter, wat bebloed op die gras gelê het, opgetel en met hom na die Bra­ck- endowns-polisiekantoor gejaag waar ’n ambulans gewag het.

Robertson sr. sê Ridgway het probeer vlug toe die polisie opdaag, maar in die swembad geval. Daar het hy hom volgens ’n polisielid herhaaldelik in die kop probeer skiet, maar die patrone was nat en die rewolwer het geweier.

Ridgway is na die Alberton-polisiekantoor geneem en word daar aangehou.

“Ek dink die lewe het te veel geraak vir hom en hy wou sy frustrasies op my en Peter uithaal,” sê Robertson sr.

’n Jare lange vriendin van Ridgway sê sy het die polisie 24 uur voor die skiettog ingelig hy wil homself en ander skiet.

Sy bestempel hom as ’n moeilike en knorrige mens met ’n wraaksugtige streep.

“Ek dink hy het ge-crack,” sê die vrou, wat anoniem wil bly.

Rapport verneem die polisie het by die gastehuis ’n gedetailleerde plan en selfmoordbrief op Ridgway se skootrekenaar gevind.

“Dave het my Sondag gebel en gevra of ek hom kan oplaai en by die Spar in Brackendowns (digby sy ou huis) kan aflaai,” sê Ridgway se vriendin.

Sy het onraad vermoed en nee gesê, want hy het glo al in September “selfmoord-praatjies” gemaak.

Die vrou sê sy het die volgende dag twee polisiemanne ingelig oor Ridgway se dreigemente.

Rapport verneem ’n polisiebeampte het om 18:20 ’n inskrywing in die Brackendowns-polisiekantoor se voorvalleboek gemaak. ’n Senior offisier wie se naam aan Rapport bekend is, het later daarby geteken, maar glo niks gedoen nie.

“Ek is woedend,” sê Ridgway se vriendin. “Die polisie kon die hele tragedie voorkom het.”

Rapport verneem die Onafhanklike Polisie-ondersoek-direktoraat (Opod) is versoek om die gebeure te ondersoek.

* Ridgway is volgens Rapport se inligting in November 2011 weens poging tot moord gearresteer nadat ’n koeël ’n buurvrou se hond getref het. Sy vuurwapen is glo afgeneem, maar toe die saak sowat ’n maand gelede laat vaar is, het hy die .357 Magnum teruggekry.

Kol. Noxolo Kweza, ’n Gautengse polisiewoordvoerder, sê volgens hul inligting wou Ridgway homself skiet en niemand anders nie.

“ ’n Polisiebeampte het Ridgway probeer bel, maar hy het nie geantwoord nie.

“Polisievoertuie het die omgewing die hele dag gepatrolleer, maar niemand met sy beskrywing is opgemerk nie.”

Die beweringe dat Ridgway voorheen weens poging tot moord gearresteer en sy vuurwapen weggevat is, kon nie bevestig word nie, sê Kweza.

Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
52 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 12-18°C Morning clouds. Mild. Pta: 2-21°C Sunny. Mild.
Jhb: 3-16°C Sunny. Cool. Bfn: -2-17°C Sunny. Mild.
Dbn: 8-21°C More sun than clouds. Cool. PE: 11-17°C Mostly sunny. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Internal Sales Consultants

Pretoria City Centre
New East Consulting Services (Pty) Ltd
R5 000 - R28 000 Per Month

Internal Sales Consultants

Pretoria City Centre
New East Consulting Services (Pty) Ltd
R5 000 - R28 000 Per Month

Insurance Sales Consultants

Roodepoort
New East Consulting Services (Pty) Ltd
R5 000 - R28 000 Per Month

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!