Kuns van miljoene verdwyn

2012-10-08 07:09

Skilderye lê teen die muur in die Randfontein-kunsgalery, wat in onbruik is. Altesame 37 skilderye het spoorloos uit dié galery verdwyn.

Lesersfoto’s Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Suid-Afrikaanse kunswerke wat miljoene rande werd kan wees het spoorloos verdwyn uit die Randfontein-munisipaliteit se galery aan die Wes-Rand.

Minstens 37 skildery deur onder andere Pierneef, Adriaan Boshoff, Pieter Hugo Naudé, Gregoire Boonzaier, Otto Klar en Tinus de Jongh het oor ’n tydperk van minstens drie jaar weggeraak.

Enkele van die werke is sowat tien jaar gelede laas gewaardeer en daar is geen rekords van hul groottes, mediums of hoe die werke lyk nie.

Met die destydse waardasie is gesê die 21 werke wat wel gewaardeer is, is minstens R1 miljoen werd.

Die galery in die Randfonteinse munisipale kantore het in die vroeë 2000’s in onbruik verval en agter slot en grendel stof opgegaar terwyl die verantwoordelikheid vir die versameling tussen departemente rondgegooi is.
Die kunswerke en die galery moes gerestoureer word voordat die publiek weer toegelaat kon word.

Die restourasie het eers laat in 2010 begin met die uiteindelike doelwit om die galery op ­28 September vanjaar te open.

Die uitstalling is uitgestel tot verdere kennisgewing.

In die voorbereidings vir die uitstalling is agtergekom 37 skilderye het tussen direksiekantore, ’n geslote galery en twee veiligheidswagte wat die ingang bewaak, verdwyn.

Die uitstalling is uitgestel omdat die werke nou almal eers verseker moet word, sê Lucky Chiya, die munisipaliteit se kommunikasiehoof.

“Die risiko is te groot. Hierdie is baie geld.”

Luidens ’n munisipale verslag van die departement van maatskaplike dienste het hulle agtergekom die skilderye is weg toe ’n eksterne ouditeur nie die boekbates fisiek in die galery kon opspoor nie.

Die bedrag waarvoor die 21 skilderye in 2000 gewaardeer is, beloop R933 500.

Geen foto’s of besonderhede van die skilderye is beskikbaar nie, net ’n onvolledige lys met name en titels.

Volgens Anton Welz van Stephan Welz & Co. maak die gebrekkige beskrywings ’n huidige waardasie onmoontlik.

Craig Harrison, ’n DA-raadslid, sê hy en twee ander raadslede het in 2009 die galery vir die eerste keer oop gesien en toe besluit om rond te loer.

Binne was doeklose rame, skilderye wat bloot teen die mure neergelê is en ’n paar verdwaalde duiwe.

Dit was drie jaar gelede.

Geen klag is tot nou by die polisie ingedien nie.

Volgens Chiya is dít weens ’n klomp papierwerk en navorsing wat eers gedoen moet word.

Welz sê die groot kommer lê daarin dat die werke vermis word, maar niemand doen die moeite om dit aan te meld nie.

Gordon Massie, besturende direkteur van Artinsure, sê geen maatskappy of private koper sal weet dat ’n skildery gesteel is as daar nie ’n saaknommer by die polisie is nie.

Op die munisipaliteit se algemene raadsvergadering verlede week is voorgestel dat die kunswerke bloot afgeskryf word om die boeke te laat klop.

“Ek is glad nie gelukkig met wat met die kunsgalery gebeur het nie.

“Die meeste van die werke is deur lede van die publiek geskenk,” sê Harrison.

* In Rapport se ondersoek het dit aan die lig gekom dat Dressing Up, ’n skildery deur Adriaan Boshoff, die afgelope week deur Stephan Welz & Co. in Kaapstad opgeveil is.

’n Skildery van Boshoff met dieselfde titel is onder die werke wat uit die Randfontein-kunsgalery verdwyn het. Dit is sowat ’n dekade gelede vir sowat R20 000 gewaardeer.

Dressing Up, ’n werk in olie, is Dinsdag op die veiling vir R17 000 verkoop.

Volgens Anton Welz van Stephan Welz & Co. wys hul rekords dat die Boshoff-skildery wat hulle opgeveil het in 1999 van ’n galery in Durban gekoop is. Die betrokke versamelaar het dit aan ’n ander versamelaar verkoop wat dit die afgelope week laat opveil het.

Welz sê Stephan Welz & Co. het nie ’n spesifieke prosedure om te verseker dat gesteelde goedere nie op hul veilings beland nie.

“Dit is eintlik maar ’n grys gebied. Wat ons wel doen, is om na die webblaaie van kunsversekeraars te gaan waar aangedui word watter kunswerke as gesteel aangemeld is. Ons is dan bewus van die name van vermiste skilderye en ’n mens sal dit herken as daar so ’n skildery hier sou aankom.”

Welz sê hulle het nog nooit ’n geval van ’n gesteelde skildery gehad nie.

“Die ander opsie is om die mens te evalueer wat die kunswerk na ons bring. Lyk die persoon byvoorbeeld soos iemand wat ’n Pierneef sal besit?

“Die meeste van die tyd gaan ons ook na die mens se huis wat ’n skildery wil laat opveil. Ons neem ’n besluit nadat ons dit gesien het.” - AJ Opperman


Lees Rapport se kommentaarbeleid

Lewer kommentaar op hierdie artikel
4 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters

binne rapport

Weer
Ksd: 13-19°C Morning clouds. Mild. Pta: 5-22°C Sunny. Mild.
Jhb: 5-17°C Sunny. Mild. Bfn: -1-21°C Sunny. Mild.
Dbn: 10-23°C Partly cloudy. Mild. PE: 14-17°C More sun than clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Magical Massinga

Spend 5 nights at the gorgeous Massinga Beach Lodge in Mozambique and only pay for 4 from R13 220 per person sharing. Includes return flights, accommodation, transfers and romantic turndown.Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Tablet Asus Nexus 7'' 3G met 32GB nou R1 999

Kry die Nexus 7”-tablet met Wifi & 3G vir slegs R1 999 en bespaar R500! Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Plaas ’n voorafbestelling vir die Xbox One

Die vermaaksentrum wat jou alles-in-een bied – regstreekse TV, flieks, sosiale netwerke en speletjies. Plaas jou voorafbestelling nou!

Tot 50% afslag op haarsorgprodukte!

Bespaar tot 50% op professionele haarsorgprodukte by kalahari.com. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Nuwe e-boeke beskikbaar!

Maak jou gereed vir ’n lekker leeservaring wat e-boeke insluit soos Good Morning, Mr Mandela; Laaste dans, Drienie; Die brug na Haven en nog baie meer. Koop nou!

Hisense Infinity Prime-slimfoon

Bespaar R1 000 op die Hisense Infinity Prime 1-slimfoon. Nou R1 999. Aanbod geldig solank voorraad beskikbaar is. Koop nou!

Soos gesien op TV – Nuwe gobii-slimfone vanaf R999!

’n Kamera aan die voor- en agterkant, tweeledige SIM-verrigting en 200MB se GRATIS Cell C-data elke maand vir 12 maande, is maar net ’n paar van die eienskappe van dié slimfone. Kry joune nou! Koop hier.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!