Maimane wil nie Gauteng-leier wees
2012-01-28 23:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
LIZEL STEENKAMP IN JOHANNESBURG
Mnr. Mmusi Maimane, die DA se nasionale woordvoerder, het hom nie verkiesbaar gestel vir die Gautengse DA-leiersposisie nie omdat hy reeds te veel hooi op sy vurk het.
Dié DA-koukusleier in Johannesburg beoog wel om ’n belangrike rol in 2014 se algemene verkiesing te speel en kan selfs die DA se veldtog in dié provinsie lei.
Maimane sê hy sou moes kies tussen sy leiersposisie in Johannesburg en dié van woordvoerder. “Maar ek kan ’n waardevolle bydrae in albei poste lewer (in aanloop) tot 2014. Dit was dus ’n langtermynbesluit.”
Daar is vooraf bespiegel me. Helen Zille, partyleier, sou Maimane se veldtog steun. Dié gerugte het gesneuwel toe die spertyd vir benoemings eergistermiddag gesluit het.
Mnr. John Moodey, gewese Gautengse DA-leier en lid van die Gautengse wetgewer, en mnr. Ian Ollis, ’n DA-parlementslid, gaan sake in die volgende ses weke uitspook om die provinsie se toppos. Me. Janet Semple, huidige Gautengse DA-leier, en mnr. Sej Motau, DA-LP, het hulself toe nié beskikbaar gestel nie. Moodey gaan sy veldtog op voetsoolvlak tussen afgevaardigdes voer. Hy het reeds ’n span ondersteuners om hom te help. “Ek is baie opgewonde. Ek glo ek gaan suksesvol wees,” het hy gister gesê.
Hy en Ollis is albei verlig die stryd is tussen net twee kandidate.
Ollis se veldtog het vroeg begin en sy ondersteuners is reeds besig om afgevaardigdes in al vier streke te werf om op 10 Maart by die DA se provinsiale kongres vir hom te stem.
“Ek is bly Helen het nie ’n voorkeurkandidaat nie,” het Ollis gesê.
Die kandidate vir die provinsiale voorsitterskap is mnr. Mike Moriarty (huidige DA-voorsitter) en me. Dot Corrigan, voormalige DA-streekvoorsitter in Gauteng-Suid.