Majola: R750 000 terwyl hy tuis sit
2012-08-04 23:40
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Die omstrede krieketbaas Gerald Majola sit by die huis teen R150 000 per maand.
Rapport verneem Majola het al R750 000 in sy sak gesteek sedert hy op 17 Maart met betaling geskors is as uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA).
Majola het by navraag nie ontken dat hy dié vergoeding ontvang nie. Hy sê hy is op ’n salaris geregtig omdat hy “niks verkeerd gedoen het nie” en dat hy enduit sal veg om sy goeie naam in ere te herstel.
“Ek is as ’n korrupte beampte gebrandmerk, as ’n dief uitgebeeld. Dit gaan nie oor geld nie, ek veg nou vir my naam wat op die spel is,” het Majola aan Rapport gesê.
KSA se poging om van Majola ontslae te raak het Maandag ’n terugslag beleef toe adv. John Myburgh hom onttrek het as voorsitter van die onafhanklike komitee wat Majola se tugverhoor moet behartig. KSA wou die verhoor teen 31 Mei afhandel, maar Majola se regspan het Myburgh, ’n voormalige regterpresident van die arbeidshof, se onafhanklikheid betwis.
Nicholas Preston van Glyn Marais wat KSA se prokureursfirma verteenwoordig, sê Myburgh se onttrekking het die tugproses vertraag, “maar ons hoop steeds om dit vandeesmaand af te handel”.
’n Ingeligte voer aan KSA se geduld met Majola is so te sê op. Die gevoel is dat Majola daarop uit is om die tugverhoor so lank as moontlik uit te rek omdat hy met volle betaling geskors is.
Majola het siedend op dié aantyging gereageer. Volgens hom is dit KSA wat die proses vertraag het.
“Ek is geskors sonder dat ek geweet het waarvoor. Ek het die klagstaat eers drie maande later gekry!”
KSA se klagtes teen Majola hou verband met R1,8 miljoen se bonusse wat hy ontvang het vir die aanbieding van die Indiese Premierliga-toernooi en die Kampioenetrofee-reeks in 2009, asook ongemagtigde reisuitgawes.
’n Kommissie van ondersoek onder leiding van oudregter Chris Nicholson het bevind dié ongemagtigde bonusse is strydig met die Maatskappyewet. Nicholson het aanbeveel Majola moet die bonusse terugbetaal en verhoor word.
Maar Majola hou vol KSA vis vir redes om hom af te dank. Hy het die bonusse destyds aan die KSA-raad oorbetaal, maar die raad “het eenparig besluit om dit met rente vir my terug te gee. Nou kla hulle my daaroor aan. Dis gek.”
Majola wil in die openbaar verhoor word, maar KSA weier.
Jacques Faul, KSA se waarnemende hoof, het Woensdag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor sport gesê KSA het Majola en Don McIntosh, KSA se voormalige finansiële hoof, reeds gedagvaar om die ongemagtigde bonusse terug te betaal (McIntosh het sowat R1,45 miljoen se bonusse ontvang).
Volgens Faul kan die siviele geding lank sloer, “want KSA verwag hulle gaan die eis teenstaan”.
Kol. McIntosh Polela, Valke-woordvoerder, sê hul ondersoek na klagte van bedrog en korrupsie teen Majola duur voort.