Maklikste wiskunde pootjie SA se onnies
2012-07-15 00:01
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
CARIEN KRUGER IN PRETORIA
Minder as 40% van Suid-Afrikaanse onderwysers ken die regte antwoord op van die gr. 6-wiskundevrae wat hul leerlinge moet kan antwoord.
In een vraag, wat sowel aan leerlinge as onderwysers gestel is, kon net 17% van Suid-Afrika se gr. 6’e en net 38% van die onderwysers die korrekte antwoord bereken.
Vaardighede van onderwysers verskil baie: In die groep vir die mees gegoede skole (bekend as kwintiel 5) kon 74% die vraag reg antwoord teenoor net 23% in die armste groep (kwintiel 1).
In ’n ander vraag is die antwoord op die volgende probleem gevra: 10 x 2 + (6 – 4) ÷ 2.
Die regte antwoord is 21, maar net 53% van die onderwysers het hierby uitgekom. Alles tussen hakies word eerste uitgewerk (6 – 4 = 2), dan word gemaal (10 x 2 = 20) en gedeel (2 ÷ 2 = 1) en dan word opgetel (20 + 1 = 21).
Nicholas Spaull, navorser in ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch, sê onderwysers met swak kennis is een van die groot uitdagings in die onderwys.
Dit, tesame met die feit dat leerlinge ná ses jaar van skoolgaan nie behoorlik kan lees, skryf en somme maak nie, wys Suid-Afrika kry dit nie reg om die mees basiese doelwitte van onderwys te bereik nie.
Spaull het die afgelope week in Johannesburg tydens die nasionale kongres van die nie-regeringsorganisasie Equal Education gepraat.
Hy het verwys na die resultate van die derde navorsingsprojek van die Suider- en Oos-Afrika-konsortium vir die monitering van onderwysgehalte (Sacmeq III).
Die geletterdheid en syfervaardighede van gr. 6-leerlinge en hul onderwysers in 15 Afrikastate is in 2007 deur dié projek getoets.
Spaull sê hoewel onderwysers in sekere vrae baie sleg gevaar het, het byna almal tog in die geheel meer van die vak geweet as hul leerlinge.
Volgens hom is die Suid-Afrikaanse onderwys se drie groot uitdagings om die grondslag reg te kry, ongelykhede uit te wis en aanspreeklikheid te verbeter.
Rakende laasgenoemde het hy in sy aanbieding spesifiek na die knaende afwesigheid van onderwysers verwys.
’n Onlangse ontleding van die Sacmeq-resultate, wat einde 2010 bekend gemaak is, wys dat Suid-Afrikaanse gr.?6-onderwysers in 2007 weens stakings die hoogste afwesigheidsyfer onder die deelnemende lande gehad het.
Hulle was gemiddeld 20 dae lank nie op hul pos nie.
In Limpopo was 97% van onderwysers weens stakings meer as een week afwesig en in die Oos-Kaap was 62% om dieselfde rede meer as 20 dae afwesig.
Indien stakings buite rekening gelaat word, was Suid-Afrikaanse onderwysers gemiddeld agt dae afwesig – die vierde minste onder die deelnemende lande.