Man herstel masjien sodat sy vrou x-strale kry
2012-09-16 00:27
’n Elektrisiën van Soweto moes self inspring en ’n x-straalmasjien in ’n Johannesburgse private hospitaal aan die gang kry sodat sy vrou ná ’n ongeluk ondersoek kon word.
Daar is met die vrou en ’n vriendin na die hospitaal gehaas waar x-straalplate eers van die vriendin geneem is. Toe dit sy vrou se beurt was, het die masjien die gees gegee.
Die man het aangebied om die fout te soek terwyl die hospitaal op die tegnikus wag. Gelukkig kon hy die bedrading regstel en die masjien herstel, het die man die afgelope Woensdag aan dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, gesê.
Motsoaledi het by ’n geleentheid in Rivonia, Johannesburg, oor Suid-Afrika se swak openbare gesondheidsorg gepraat en erken hy wonder soms of hy dit kan regruk.
In antwoord op die man se klagte het Motsoaledi gesê: “Dié soort ding moet reggestel word. Dit saai amok in die gesondheidsorgstelsel. In die verlede het ons mense gehad wat opgelei is om hospitale se masjiene te herstel. Nou kos dit agt keer meer om ’n masjien reg te maak omdat hospitale nie meer hul eie tegnici het nie.”
Die Tshwane-universiteit vir Tegnologie het vanjaar begin om tegnici op te lei, maar intussen word al hoe meer hospitaalpersoneellede gedwing om eiehandig foutiewe toerusting te herstel.
Dokters by die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Johannesburg moes verlede week by die lig van ’n selfoon ’n keisersnee uitvoer toe die krag tydens die operasie onderbreek is en die kragopwekker nie aan die gang kon kom nie.
’n Maand gelede het die Charlotte Maxeke-hospitaal in dié stad erken hy moes tot 100 operasies per week kanselleer weens ’n tekort aan toerusting, narkotiseurs en dokters. Kankerpasiënte is by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria weggewys nadat ’n bestralingsmasjien in Maart gebreek het.
In Junie het dokters by die Oos-Kaapse Nelson Mandela-hospitaal hul pasiënte aan hul lot oorgelaat toe hulle die strate ingevaar het om te betoog nadat hulle ses maande lank sonder betaling moes werk.
Openbare hospitale in Limpopo het in Mei nie meer kos en medisyne gehad nie en dokters moes die hand in eie sak steek om hul pasiënte te voed.
Gauteng, Limpopo en die Oos-Kaap het die swakste openbare gesondheidsorg, het Motsoaledi gesê.
En al drie dié provinsies het een ding gemeen: “’n tendersorgstelsel”.
Tendersorg verwys na ’n stelsel waar provinsies tenders uitreik vir onnodige goed, het Motsoaledi gesê.
Maar dié besteding beteken die begroting vir toerusting en medisyne word uitgeput en kan lei tot die ineenstorting van gesondheidsorg in sommige hospitale en klinieke.