Man hof toe oor sy derm lek
2012-08-12 00:11
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Rapport op
Julian Jansen in Kaapstad
’n Gewese kankerlyer pak ’n groot farmaseutiese maatskappy en ’n navorsingsentrum in die hof nadat eksperimentele behandeling glo skeefgeloop het.
Peet Venter (56), ’n boukontrakteur van Hermanus, moes hierna buikoperasies ondergaan.
Hy eis R3 miljoen vir mediese koste en verlies aan inkomste van die maatskappy Roche Products en dr. Leon Gouws & Vennote (die Panorama- kliniese navorsingsentrum of GVI Clinical Trials).
Hy grond sy eis op beweerde kontrakbreuk en die verbreking van ’n regsplig.
’n Kankergewas is in 2004 uit sy kolon verwyder. Hy het in 2005 ingestem tot deelname aan ’n navorsingstudie van Roche Products.
Hy het in Julie 2005 die voorgeskrewe behandeling en medikasie ontvang, maar tydens die toetsproses perforasie (’n lek) van sy kolon opgedoen.
Nadat hy infeksie in die abdominale holte gekry en sy galblaas verwyder is, is ’n kolostomie-sakkie aan sy derm geheg.
In hofstukke sê Venter Roche Products het sekere kontraktuele ondernemings nie nagekom nie. Venter voer aan Roche Products het verklaar dié maatskappy het versekering uitgeneem by ’n maatskappy in Zürich teen proefverwante beserings.
Venter sê ook Roche Products het erken dat sy kolon-perforasie met dié proewe verband hou.
Nogtans weier die maatskappy om hom te vergoed vir die grootste deel van sy mediese koste en skadevergoedingseise.
Venter sê hy is nie ingelig dat vergoedingseise betaalbaar sou wees in Switserland deur ’n Switserse entiteit (F. Hoffmann La Roche AG) en nie die Suid-Afrikaans gebaseerde Roche Products nie.
In hul verweer betwis Roche Products Venter se aanname oor die uitwerking van die versekering en dat hulle enige ondernemings aan hom gegee het.
Voorts sê die maatskappy F. Hoffmann La Roche AG, en nié hulle nie, was die borg van die proewe.
Derhalwe behoort Venter die oorsese maatskappy te dagvaar.