Man kry brief van huurmoordenaar
2012-02-18 22:36
In die Bolandse dorp Worcester staan mev. Nell-Mari Cooke (30) bekend as ’n vonkelvrou, ’n Vryheidsfront Plus-kandidaat in 2011 se munisipale verkiesing en ’n voormalige jeugleier van die Wes-Kaapse tak van dieselfde party.
Dinsdag het dié woeker-vrou in die landdroshof in Worcester verskyn op aanklag van sameswering om haar man te laat vermoor. Haar tuinier en ’n vermeende bendelid van dié dorp is glo deur haar gewerf om haar 33-jarige man, Martin, te vermoor.
’n Geskokte mnr. Cooke het op 7 Februarie van die sameswering uitgevind toe hy ’n handgeskrewe brief uit die posbus by die huis gehaal het. In dié brief is verwys na beloofde geld vir die moord op hom.
Hy en sy vrou is vervreem. Sy woon nog in hul huis in Paglande, ’n lowerryke woonbuurt in die middedorp.
Mnr. Cooke kon die skrywer van die brief, ’n vermeende lid van die JCY-bende in Worcester, opspoor.
Hy het die man met die brief gekonfronteer, waarna die man erken het hy is gevra om die vrou se man te vermoor.
Cooke het toe die polisie ingelig en sy vrou is in hegtenis geneem.
Mev. Cooke het in die hof ontken dat sy met die twee saamgesweer het om haar man te vermoor.
In haar borgtogaansoek Dinsdag het haar prokureur, mnr. Sakkie Krouwkam, aan die hof gesê die egpaar moes ’n dag voor haar inhegtenisneming in die hof verskyn het ná ’n aansoek dat die kinders se onderhoudgeld van R3 000 tot R500 verminder word.
Haar vermeende medepligtiges sal as staatsgetuies in die saak getuig.
Die ondersoekbeampte, ao. Deon Daames, het Dinsdag tydens Cooke se borgtogaansoek gesê selfoonrekords van mev. Cooke se foon sal bewys dat sy gereeld kontak met die mans gehad het.
Cooke is op borgtog van R5 000 vrygelaat. Volgens haar borgtogvoorwaardes moet Cooke haar paspoort inhandig, geen kontak maak met die klaer of ander staatsgetuies nie en ook nie die landdrosdistrik van Worcester verlaat sonder om Daames vooraf daarvan in te lig nie.
’n Hoorbaar senuagtige mnr. Cooke wou by navraag geen kommentaar lewer nie.
Vriende na aan die egpaar vertel die egpaar se huweliksbootjie het in 2010 begin sink toe mev. Cooke in 2010 glo ’n verhouding met mnr. Adriaan Jansen van Nelspruit gehad het.
Mev. Cooke verskyn Donderdag weer in die hof.
***
Cooke word tans by twee afsonderlike sake van bedrog in Worcester betrek.
Sy het glo artikels op ander mense se rekeninge by ’n apteek en koöperasie gekoop.
In 2010 het Cooke, terwyl sy in Johannesburg gewerk het, ’n verhouding met mnr. Adriaan Jansen, ’n motorfietsgeesdriftige van Nelspruit, aangeknoop nadat hulle op Facebook ontmoet het.
Jansen het eergister aan Rapport gesê Cooke het haar as “Karla van Wyk” aan hom voorgedoen.
“Sy het my vertel sy vlieg die wêreld vol en besoek ministers. Ek het eers later uitgevind haar regte naam is Nell-Mari Cooke. Ek was geskok en het haar leuens openbaar gemaak deur dit op haar Facebook-profiel, Suikersoet, te sit,” het hy gesê.
Cooke het ’n klag van crimen injuria aanhangig gemaak.
Sy het die Kaapse ondersoekonderneming Ganief Daniels & Vennote gevra om ’n interdik teen Jansen te kry.